Joan Hambidge. Opruiming 1& 2
Opruiming 1
Eenmalig glo, dié vertrek, meen jy,
met vergete ballonne op die Polana hotel
se stoep lank ná ‘n nuwejaarsfees
met ‘n buffet van seekos en wyn.
Soveel ‘jy-e’ vind ek by hierdie inpak,
oppak tussen boekkontrakte bewaar:
die rym neem ook ‘n hele lewe in beslag,
meen DJO in sy verse só goed verpak.
Is hierdie dan my Periandros of Edms. Bpk?
‘n Grammatika van vernugtering?
Daar was baie stryd en dubbelpraat
iets soos kognitiewe dissonansie.
Alles nou in bokse en leggers opgepak.
Dis systap, dwars-stap, ingooi, uitgooi
deur hierdie argivaris, immer op vertrek
uit ‘n kantoor rondom verslae en agendas.
As kind dikwels getrek na ‘n nuwe plek:
orals waar ek my voet sit was daar verhindering
of misplasing: ‘n foto van ons wasig verklap,
eenmalig glo, hierdie vertrek, meen ek.
Opruiming 2
By die Poorte vir die Laaste Oordeel
sal ‘n akademikus-cum-skrywer
geweeg en té swaar gevind word:
geen veer soos die Egiptenare beweer.
Die siel hier tans gekalibreer:
boeke, bloemlesings, notules,
dispute, aperçus, selfs verse
(onafgewerk) in ‘n rak as verweer.
Vir goedskiks dertig jaar verkeer
in ‘n ruimte met stof en spinnerakke.
Ontdek ‘n gedig oor Julia Kristeva
in hierdie speurtog van die leer.
The poetry is in the pity, the pity …
dat alles sou uitloop op ek wou …
Die raadgewer van ‘n Pous voormalig
weet van die self as matrioskas afgeskil.
Noodluik en Onderdak is reeds gebruik.
Noodweer klink nou as titel gepas op:
ook dít sal geen leser van die digkuns behaag.
Ons hoor die kritiek al kakel: helaas té vaag.
© Joan Hambidge, 2022