Joan Hambidge. Opruiming sewe
Opruiming sewe
Die aard van angs dat dit tydelik kwel?
Žižek meen die ergste emosionele hel.
Pinset of lornjet? Lornjet of pinset?
Watermeyer se geldelike boedel oortref
‘n digterlike bemaking, al kelk ons die klanke
steeds bloeddorstig, een-sinnig in die keel.
Die sanger van die Suikerbosrand neem ‘n plek
in langs ‘n bloedrooi bundel In die verbygaan.
‘n Griekse vrou struikel en sterf skielik puntig:
‘n sonsambreel tref haar slagaar waterpasreg.
Van al die digters wat ek ken, bly dit Liesbet
wat hierdie terugpraat palinodies sou besleg.
Die aard van angs dat dit tydelik kwel?
Žižek meen die ergste emosionele hel.
Pinset of lornjet? Lornjet of pinset?
‘n Digterlike diagnose in hierdie verhuisingstyd
met Dirk-der-Duisende se groot hosannas
as troos in hierdie semantiek se sirkelsang.
Cleanth Brooks se The Well-Wrought Urn
hardeband en hardebaard langs Garzilli
se Circles without Center ‘n sleutel geroes.
Laaste woord aan Ernst en sy hulsels van kristal:
dié bundels en studies kies ‘n eie bondgenoot
met ligte- en swaartepunte soos Jan F. se “Dis al”.
Die aard van angs dat dit tydelik kwel?
Žižek meen die ergste emosionele hel.
Pinset of lornjet? Lornjet of pinset?
© Joan Hambidge, 2022