SANTEKRAAM, JAROSLAVL
Skilpoppe helder geel, rooi en groen
uitgepak langs ligte rame, sierlik gesny,
omrand onbekende ortodokse heiliges,
stralekranse ‘n stram geel skyf om die kop
van die Moeder, deemoedig gebuig
oor die Kind, ook verbeeld aan piouterkruis
neffens strydvaardige ridders;
engele by die nagmaal voor ’n koepelkerk;
helder gekleurde porselein, hier en daar
versober deur Delftse blou, dalk modieus
ná Groot Pieter se Laelandse verblyf.
Bruin bere minder of meer bedreigend,
katte skattig glim- of grynslaggend
soos dié van Alice tot hier verdwaal;
Sinterklase, gepas wit gebaard – was Nikolaas
nie hoeka uit dié gewes? Bont beligte
denneboompies, kompleet uit ’n verhoog
vir die Neutkraker; ragfyne glaswerk (helaas
te broos vir verpakking en vervoer per vliegtuig);
poppies in volksdrag, rompies en voorskootjies
met sigsag omrand, oorwegend rooi soos dit hoort;
skone gekroonde prinsesse met edel wit gesiggies –
bepaald vóór die vernieling van wrede prinse
wat gades lukraak waansinnig kon laat verklaar
en tot afgeleë kloosters laat verdoem, kantwerk
om dié stil, strak gelate, kristalballetjies
en Fabergé-eiers in miniatuur, dus bekostigbaar
vir die toeristemark van elke slag en soort.
Alles met groot sorg gekerf, geverf, gehekel:
die werk van lang, koue maande in donker huisies
op verblindende wit sneeulandskappe
eindeloos om gehuggies uitgestrek.
Les bes
ter bewondering en stellig ook tot vermaak,
mnr. P. in verskeie poses op teebekers ingebak:
hand aan die donkerbril, enigmatiese spioen-
uit-die-koue – of soos dit ’n oud-KGB-offisier
betaam, in groenbruin uniform, slaggereed
om Moedertjie R. te verdedig; in donkerblou
gevegstenue, turend na verdagtes voor dié kas;
met oopnekhemp, glimlaggend, of breëbors
berede op die rug van perd, arend of beer –
met dié vermaning vet gedruk aan die onderkant:
Keep calm & love Russia.
© Martjie Bosman, 2022
