Die kleure van onthou
My geheue se huis staan vas
die tuin is wild, vrolik en onbeteuel
voetpaadjies lank reeds toegegroei
maar die son straal goudgeel
al dansend in ‘n kleurkontras
ek hunker gretiglik na die deur
(skraap allig moed bymekaar)
om dié huis se kamers in te vaar –
gapend-aan elke herinnering
wat ‘n lank toegemaakte woning my bring
In die kombuis
weerklink die stemme nog,
luister ek dan mooi
is dit myne selfs ook
wat saam rinkink
Die gang is lig
met sagte strale
stukkies stof
mikrobies klein
wat daarin skyn
portrette hang stewig
hier waar ek stil
by my voorgeslagte talm;
in helderblou liefdeslig
is hul hier ewig verwesenlik
koperbed, wastafel, ‘n kruik
nog steeds op hul plek
tafel immer netjies
in my geheue gedek –
deur die venster loer ‘n wynrooi struik.
Ek sien nogmaals die lig
in die strale van die son;
ek sou hier wou bly
as ek maar net kon, tóg,
is ek inderdaad vry
ek leef naby jou, huis van herinnering
laat ek tyd uit my hede koop,
my lewe vir ‘n wyle neerlê
sodat die immergroen van onthou
inherent (diepgeleë) om my kan vou.
© Amori Smith, 2022