Swaan in swart en wit
Hulle het die swart swaan die eerste gewaar
onverwags, natuurlik, soos lank voorspel
die wit swaan
nêrens te sien
Die planne het onmiddellik in werking getree,
valdeure het oral gesak, die beurs terstond
in duie gestort
en fabrieke is omver gewerp
Terwyl die swart swaan noodtoestande inlei
het die wit swaan oor die spieëlwater gegly
en na haarself
in eensaamheid gestaar
Soos goed uitgewerk is personeel in duisendes
afgedank, die staat is oorval met woedende
eise en beroepe
om nog groter beloftes
Die swart swaan het sy vlerke oor die hemele
gesprei en die vere verleidelik laat flonker:
verskietende sterre
van genade en hoop
Hy het hom laat vang om weer in die paleis
losgelaat te word en soos die pou te pronk,
soos die spervalk
op die erfgenaam se arm
Die wit swaan het in haar liefde verlaat
haar signette om haar vergaar en stil-
stil die moeras
se duisternis in gevaar
Politikus met masker
Lees sy lippe nie meer, net
sy oë, wat joune miskyk,
net jou besware aankeer
na sy hoekie vir eensame
komplotte en met hierdie
nuwe gemompel jou eie
gesluierde woorde een
vir een laat swig voor
sy geheime mond wat
hulle insluk sonder om
ooit vir jou tande te wys
Handewas
Ons hande is ons eie nou, dis om’t
ewe: in skuld of onskuld was ons
hulle, in vergifnis vertroetel die een
die ander in die ekstra water, om vorme
asof daar klei is en iets gaan lewe
kry, tot ons onthou die langer tyd aan
handewas gewy is uit vrees: dis ons
verborge wens om hulle te oorhandig
in die groet, die greep, die beklinking
van die transaksie, die wêreld in te laat
vaar om alles oor te vat, met ons vingers,
die dosyne beentjies, die vel oopgesprei
met ons kolonies krioelende animalkules
in die palms, ontelbaar en onstuitbaar
soos die sterre bokant ons, die hemele
wat ons hande na bo eens wou loof
© Hans Pienaar, 2023