Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 April 202327 April 2023

Resensie: “vissers van woorde” (willem de swijger)

 

 

Resensie: vissers van woorde deur willen de swijger, Minimal Press, 2022

Resensent: Marlies Taljard

 

In Lukas 5:8-10 gee Jesus sy dissipels opdrag om “vissers van mense” te word, met ander woorde om Hom na te volg, bedoelende dat hulle mense in kontak sal bring met sy leerstellinge, om ʼn bepaalde roeping uit te leef en sodoende tot dieper insig te kom. Met hierdie verhaal as interteks kan mens dan waarskynlik die bedoeling agter de swijger se bundeltitel “vissers van woorde” interpreteer.

“[V]issers van woorde” is willem de swijger se debuutbundel en bevat 60 gedigte oor uiteenlopende temas. Die bundel is nie formeel tematies of volgens rubrieke ingedeel nie en dit lyk asof gedigte ook nie streng volgens temas gerangskik is nie – nie dat dit ʼn formele vereiste vir digbundels is nie, maar dit help tog die leser om sin te maak of ʼn bepaalde “lyn” in die bundel raak te lees. Myns insiens het hierdie bundel nog redelik ingrypende redaksie en veral ʼn skerp snoeiskêr nodig. Die digter het beslis talent, maar dissipline ontbreek – te veel “darlings” het by die agterdeur ingeglip.

Ten spyte daarvan moet ek toegee dat dit  ʼn bundel is wat maklik toeganklik is. Wat digterlike tegniek betref, kom heelwat verskillende digvorme voor, van prosagedigte of prosa-agtige gedigte (pp. 13, 46, 78) en vrye verse tot gedigte met vaste vorms en rymskemas met of sonder rym. Klassieke vorme is egter grootliks afwesig. Die meeste gedigte is beskrywend van aard. Wat steurend is, is die onnodige woordrykheid, byvoorbeeld in die gedig “winternag” (p. 42):

 

krakend, kreunend

hang yskristalle byna bewend

wit wapperend soos linte

aan die nag se weglêsnor

die uitspansel is geborduur

met kruissteek

met klingende klokkies

met maanlig wat sierlik vloei

blink maalkolke kantel

van horison tot horison

(…)

 

Soms kom treffende metafore voor, soos in “bly” (p. 43):

 

vir my bly jy steeds die smaak

van ʼn stroopsoet, yskoue

turksvy

(…)

 

ʼn Poëtiese tegniek wat by herhaling (en byna tot vervelens toe) in die bundel voorkom, is die parallelisme – sekerlik dié mees prominente poëtiese tegniek van die Ou Testament. Dit is ʼn tegniek wat onder andere gebaseer is op herhaling, variasie en sintaktiese uitbreidings. Dikwels word sinonieme gebruik, maar ook semanties verwante woorde en frases en selfs teenstellings. ʼn Goeie voorbeeld kom voor in die slotgedig van die bundel, “seënbede” (p. 83):

 

mag die Here

die ewige, die almagtige, die barmhartige –

wat aan die begin

die hemel en die aarde

geskape het

in wording gespreek het

in die lewe geroep het

met slegs sy woorde

wat vormvas en patroonmatig

lewe elegant georden het uit wanorde

wat herskep uit genade

en steeds skep –

hom oor jou ontferm

(…)

 

Sowel op tematiese vlak as op poëtiese vlak steun die digter sterk op die Bybel. Ek dink aan gedigte soos “gedig vir Ma” (p. 23), “my seer plekke” (p. 54), “maatemmer” (p. 58) en ‘ʼn Bolandse beryming van Psalm 125” (p. 74).

Ander temas wat voorkom, is die Suid-Afrikaanse landskap, soos in die gedig “droomblou berge” (p. 73):

 

laat tog

my drome

se blou berge

met sonsondergang

stadig

in room

bedek word

met chroom

oortrek word

sonder woorde

pienk word

soos rose

wat blom

soos salm

wat stertklappend

stil

wegswem

saam met jou

die donkerwordende

nag

in

 

Hierdie is een van die “mooi” gedigte in die bundel wat egter in terme van poëtiese tegniek veelvuldig tekort skiet. Een aspek wat in hierdie bundel (soos in die gedig hierbo) nie behoorlik verreken word nie, is tipografie en die afbreek van versreëls wat in die bostaande gedig (soos in baie ander gedigte) voorspelbaar word en waar die digter dus die geleentheid verspeel om addisionele kommunikatiewe waarde deur middel van tipografie aan ʼn gedig toe te voeg.

Liefdesgedigte kom in oorvloed voor: “vandag laat ek my hart / in jou veilige bewaring” (p. 20), “ek dra jou in my hart / soos ʼn blinkbrandende fakkel” (p. 69). Aan die moeder word drie gedigte opgedra: “kwyn en blom” (p. 17), “gedig vir Ma” (p. 23) en “moeder” (p. 71). Oor die vader een gedig: “om met ʼn engel te stoei” (p. 34). Geloof is een van die temas wat die meeste aan bod kom. Een van die treffendste verse in die bundel:

 

gebed vir wyn

 

Here, as dit u wil is:

pluk my van waar ek gemaklik hang,

ry my skud-skud aan na waar ek moet wees,

sif al my onsuiwerhede uit –

kraak, deur swaarkry en beproewing, my dop

sodat dit die sap in my bevry

en dan, o God, maak tog wyn van my

– gebalanseerd en vanuit die aarde –

geskik vir u hemelse banket.

 

Vir Coenie

(p. 19)

 

Soos die titel aandui, is woorde en taal ʼn belangrike tema in die bundel, soos dit in die openingsgedig, “my taal” (p. 9) verwoord word en ook in die gedigte “my woorde” (p. 62) en “gewaarwording” (p. 63).

Ten slotte: hierdie bundel bevat aangrypende en inspirerende gedigte. Dit speel veral in op religieuse temas – nie slegs nie Bybel nie, maar op die wyse waarop ons op aarde met onsself en ons medemense saamleef. Veral lesers wat nié gerig is op literêre leesstrategieë nie, sal hierdie bundel geniet vanweë die menslikheid van die verse en die egtheid van die numineuse belewenisse wat daarin vervat is. Ek beveel dit aan vir opbouende leesstof en as geskenk vir ʼn geliefde persoon.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “die jaar toe pa …” (Hannes Visser)
Resensie: “Die grondgeitjie roep” (Emmie Bedeker) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • johan swanepoel. bloudruk
  • Resensie: “Boei” (Jean Meiring)
  • Christa Kleynhans. Omgekeerde Borduurwerk
  • Christa Kleynhans. Oggend inventaris
  • Miel Vanstreels. Weer eens

Nuutste kommentaar

  1. Dewald Koen on Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)14 October 2026

    Dankie, Joan. Ja, Daniel se kennis is inderdaad verbysterend.

  2. Joan Hambidge on Vertaling: Marc Tritsmans “Hoe ik het wil zeggen”. Vert. Daniel Hugo14 October 2026

    Puik vertaling.

  3. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie vir jou saamlees en kommentaar Gert

  4. Anzé Bezuidenhout on Pierce van Tonder. my vuurvliegie-gedagtes12 October 2026

    Absoluut tasbaar en puik gedoen!!

  5. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie Versindaba vir die plasing en blootstelling

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d