I
Die digter Johann se Lange het ‘n belangrike lys van die beelddig of ekfrastiese vers vir ons opgeteken op sy blog Kaapse paragrawe:
http://johanndelange.blogspot.com/2012/09/ekfrasis-oftewel-die-beeldgedig-in.html Besoek 26 September 2023
Dit val nie te betwyfel nie dat vele digters in Afrikaans al hierdie moeilike digvorm behendig beoefen het.
Die gedig wat handel oor ‘n skildery of foto is deur gesiene digters gedoen. Oor die fototeks het veral die figuur Marilyn Monroe gelei tot verskillende interpretasies van foto’s.
T.T. Cloete het die eerste indrukwekkende gedig geskryf oor Monroe in sy debuut Angelliera (1980):
Marilyn Monroe foto in blou
een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp
volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe
in ‘n volstrek
leë blou
ruim vertrek
die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ‘n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel
asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond
vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek
deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot
wat gloei onder die vals-egte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit
vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar
oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie
“Marilyn Monroe foto in blou” deur T.T. Cloete in Angelliera (1980).
http://johanndelange.blogspot.com/2010/03/marilyn-monroe-met-n-omweg-kan-bysake.html Besoek 26 September 2023
Die digter en literator Heilna du Plooy het eweneens insigryk oor Cloete geskryf:
https://versindaba.co.za/2013/02/20/op-loop-met-n-lyn/ Besoek 26 September 2023.
Die literator Wilfred Jonckheere het uitgebreid en insigryk oor beeldverse geskryf op Versindaba en veral die moeilike en onderskatte verse van Johan van Wyk, ook skilder, vir die leser oopgemaak.
https://versindaba.co.za/2023/08/15/wilfred-jonckheere-beeldspraak-6/ Besoek 26 September
2023
Verdere studies:
https://link.springer.com/book/10.1007/978-3-031-11313-0 Besoek 26 September 2023
II
Sopas het Moerasperd deur die nag deur Louis Jansen van Vuuren by Naledi verskyn. Die digter is ook skilder en in sy bundel is daar verskillende ekfrastiese verse opgeneem. Die Les Nymphéas oftewel 8 waterlandskappe deur Claude Monet is vervolgens die fokus.
Monet (1840 – 1926) word beskou as die vader van die Impressionisme, oftewel waarnemings oor die natuur. Die term is ontleen aan sy uitstalling Impression, soleil levant, uitgestal in 1874. Die skilderye van waterlelies in sy tuin te Giverny is eweneens ‘n baken.
Die reeks verse van Van Vuuren begin met ‘n besinning met twee bejaarde bemindes wat die uitstalling bywoon. Die buite teenoor binne is ‘n belangrike kode: só word die digter teenoor die skilderye geplaas waarop dan kommentaar gelewer word. Ekfrastiese verse is filosofiese besinnings vanuit ‘n bepaalde perspektief. Hierom sal elke kyker of digter op iets anders fokus.
Les Nymphéas
8 waterlandskappe deur Claude Monet
l’Orangerie, Parys
buite: die twee ovaalsale
verwit die tuilleries tuin
sneeu soos manna
uit die koue hemel
binne: twee argitektoniese skulpe
uit opaak dakplate verlig
‘n kleurvolle diskoers
tussen bejaarde bemindes
i
le soleil couchant
200 x 600 cm
die son sak
in verbystering
deur die laventelbloudam
‘n ligkol
in die middel
skarlakenrooimerke
krap aan die oppervlakte
stukke van die nag
torring uit die dieptes los
drywend knoop die waterlelies
hulselwers in die aanduur toe
https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=le+soleil+couchant+monet Besoek 26 September 2023
Skarlakenrooi speel in op die Bybelse manna uit die hemel wat aansluit by die vele Bybelse verwysings in die bundel en die “laventelbloudam” gee verwysings na die digter-as-skilder (Van Vuuren) se werk met blou. Sy Bybelse belewenisse word teen Monet se skynbaar ateïstiese oortuiging geplaas. Couchant soos in decline.
ii
matin
200 x1275cm
oggendblou
oggendroos
oggendhulde
polichroom aubade
rietgewas
skoonskynend
vleikuikenkoor
In die oggendvers (matin) is daar ‘n spel tussen blou en ‘n roos. Ook ‘n aubade, oftewel oggendlied. Alles is hier skoonskynend, oftewel deursigtig.
iii
les nuages
200 x 1275 cm
sonder waarskuwing
bol die wolke
driftig
uit die donker op
in ‘n gedempte ligkol
dryf drie rooi lelies
geverfde watervoëls
dis die begin en einde van die donker
In die derde gedig “nuages” (wolke, maar volgens my Franse woordeboek Cassell’s ook gloom!) word die oggendstemming een van donkerte en onrus. Maar die watervoëls dui die begin en einde van die donker aan. Waarskynlik omdat voëls sing ná ‘n storm?
iv
reflets vertes
200 x 850 cm
diepte is ‘n groen illusie
my aanhits om te duik
waar ek op die bodem
die eerste tekenlyne tref
pigment en houtskoolstof
koppiesvol lelies
dryf roekeloos
tussen wilgertakke
waardeur kobalt strepe maak
In die iv’e vers is daar ‘n illusie van groen en diepte wat die kyker laat induik in die skildery. Hier sien hy as’t ware die skilder se werkswyse vanaf die eerste tekenlyne.
Reflet soos in refleksie, maar ook nadenke.
v
reflets d’abres
200 x 850 cm
duisternis
verdonkerde dam
geluidlose stiltes
sonder kleur
tussen die takke
ongedroomde drome
In die v’e gedig is daar ‘n afbeelding van bome wat duideliker inbeweeg op die onbewuste: geluidlose stiltes en ongedroomde drome.
Die woord abreuver om water te gee, word ook implisiet geaktiveer.
vi
le matin aux sauls
200 x 127 cm
oggendskemerte
wilgerlote
wolke drywend stil
uitgeblomde lelies
met die kwas toegetakel
kyk, hulle spin of weef nie
Hier word nou opwaarts beweeg (“wolke drywend stil”) met uitgeblomde lelies.
Toegetakel dui dalk op die onrus van sowel die skilder Monet as die digter Van Vuuren.
vii
le matin clair aux sauls
200 x 1275 cm
die hemel wit geskyn
rimpels op die water
bome soos minnaars
in water vasgevat
verdonkerde dieptes
asuur pigment
beeldig skoon
In die vii’e gedig is daar weer helderte (clair) met “bome soos minnaars” wat in die water staangemaak is.
Die woord “beeldig” dui op beeldend, maar is ook ‘n metarefleksie van die gedig as beeldgedig of ekfrastiese vers waar die digter Van Vuuren in die gedig verskyn.
viii
les deux saules
200 x 1700 cm
panorama finale
alkant selfkant
tafereel
cinemascope
technicolour
fin
In die viii’e gedig of slotvers, wat eindig met fin, word die leser bewus gemaak van die digproses as ‘n tafereel, maar ook ‘n alkant-selfkant. Dit word ‘n soort filmiese blik in “cinemascope” en “technicolour” wat die moderne digter(kyker) se blik verklap.
Binne word buite; alkant word selfkant (m.a.w. eenders); links word regs …
‘n Verruklike, oënskynlik eenvoudige besinning met diepte. Nes Cloete in sy gedig waarsku:
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake –
Joan Hambidge
28 September 2023
Bibliografie
Cloete, T.T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.
Thomas, Dennis. 1980. The Impressionists. Londen: Optimum Books.
Van Vuuren, Louis Jansen. 2023. Moerasperd in die nag. Gansbaai: Naledi.
In 2018 die volgende vers geskryf:
Claude Monet: Waterlelies / Indruk, sonsopkoms
Waterlelies, dié het jy alte graag
en plein air impressionisties opgevang
en nou, voor sonsopkoms kyk ek
na jou Impression, soleil levant.
Iets in hierdie moment (‘n sterftetyd)
wanneer die lig deur vensters breek,
woorde soos seerose geraam
in sublieme verheldering.
Joan Hambidge (Op die keper beskou. Ongepubliseer).
