I
Peter Webber se film Girl with a Pearl Earring (met Scarlet Johannson en Colin Firth in die hoofrolle) is ‘n besondere kunswerk. Die film is gebaseer op die gelyknamige roman van Tracy Chevalier. Die storie van Griet, ‘n bediende, wat in Vermeer se studio beland het in 1665. Die spanning tussen Griet, die jong slagterseun wat verlief is op haar én Catharina (Vermeer se eggenoot) verbeeld spanninge tussen kunstenaar en eggenoot; model en kunstenaar; kunshandelaar (beskermheer) en kunstenaar. En uiteindelik dat sowel die model as die kunstenaar nie besef aan wátter groot kreatiewe magte hulle uitgelewer is nie.
Griet betree die ruimte van ateljee, terwyl Catharina dit nooit besoek nie. Verdere konflik: Vermeer se beskermheer, ene Van Ruijven het ‘n oog op Griet. Daar is ‘n poging tot verkragting en die slagterseun, Piet vertroos haar. Catharina se moeder oorhandig die pêreloorringe van haar dogter aan Griet wat al hoe meer gefassineer is deur Vermeer. Spanning tussen moeder en dogter.
Griet verlaat die huis en Vermeer gaan voort met die skildery.
Griet gee wel die oorringe terug, maar Tanneke, die kok, gee dit weer aan Griet. (Die ondermyning van die hiërargie dalk? Bediendes wat hul mag ten toon stel?)
Aan die slot van die film – wat inzoem op die bekende skildery – is al die spanninge oënskynlik opgelos.
Jaloesie oor waarom die skilder nie sy eie vrou wou skilder nie. En die skilder wat voortgaan ten spyte van al die konflik rondom hom.
Uiteraard ‘n fiksionele portret wat kommentaar lewer op gender-kwessies. En rykdom as mag.
II
Johannes Vermeer (1632 – 1675), ‘n Hollandse Barokskilder, het veral die middelklas se klein bestaan verbeeld. Hy het stadig gewerk en relatief min geproduseer in sy lewe. Dit is eweneens bekend dat hy ná sy dood ‘n geweldige skuldlas vir sy vrou nagelaat het. Hy het veral vroue geskilder en sy aangrypende skilderye eksperimenteer met lig. In sy lewe was hy veral in Delft en Den Haag geëer. Eers in die 19e eeu, danksy besinnings van Gustav Friedrich Waagen en Théophile Thoré-Bürger, word hy herontdek. In Afrikaans is daar vele gedigte oor Vermeer. Die Poolse digter Wisława Szymborska het hierdie juweel vir ons gegee:
‘Vermeer’, by Wisława Szymborska
So long as that woman from the Rijksmuseum
in painted quiet and concentration
keeps pouring milk day after day
from the pitcher to the bowl
the World hasn’t earned
the world’s end.
[Source: The New York Review of Books; translated from Polish by Clare
https://jasongoroncy.com/2012/03/07/vermeer-by-wislawa-szymborska/ Besoek 4 Oktober 2023
Lloyd Schwartz skryf ook oor Vermeer: “Vermeer’s Pearl”. https://poems.com/poem/vermeers-pearl/ Besoek 4 Oktober 2023
III
In 2010 publiseer Tom Gouws ligloop rondom die figuur Johannes Vermeer. In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002. In 2012 verskyn stigmata.
Die volgende verse handel oor Vermeer, soos aangestip deur Johann de Lange:
- 7 oorsprong
- 8. 1. blik op delft
- 9. 2. greens were fugatives
- 10. 1. die kantklosser
- 11. 2. ars poetica
- 12. 1. manne van vermeer
- 13 2. naskrif
- 14 vrou in blou met brief
- 15 camera obscura
- 16 vrou met ‘n pêreloorring
- 17 skildery van brieflesende vrou en lakei
- 18 die geograaf
- 19 die dag is blou soos delft
- 20 die astronoom
- 21 1. oënskoulik meisie met rooi hoed
- 22 2. oënskoulik onbenullige detail
- 23 the mind is larger than the largest sphere
- 24 st. praxedis
- 25 die kantklosser II
- 26 vrou wat pêrels weeg
- 27 die melkmeisie
- 28 vermeer was sy hande
- 29 inventaris
- 30 besoek aan die graf
http://johanndelange.blogspot.com/2012/09/ekfrasis-oftewel-die-beeldgedig-in.html Besoek 26 September 2023
Vir Vermeer se skilderye:
https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_paintings_by_Johannes_Vermeer 2 Oktober 2023
In “die dag is blou soos delft” eksperimenteer Tom Gouws met die betekenis van blou. Blou, die kleur van melancholie. Hierdie kwessie word verder ondersoek in Hein Viljoen se uitstekende digbundel vyf kleur blou (Naledi).
https://versindaba.co.za/2023/06/29/resensie-vyf-kleur-blou-hein-viljoen/ Besoek 5 Oktober 2023
die dag is blou soos delft
n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”
“blue is not a colour; it is depth”
ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,
maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:
baftablou akwamarynblou dempblou persblou
rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou
fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou
marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou
turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou
poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.
hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.
*
Wie is die “ek” in hierdie gedig? Is dit Vermeer of Tom Gouws? Of dalk beide? Is dit die digter wat in sy bekoring met Vermeer se werk volledig identifiseer met die kunstenaar?
Waarom die “kleurlose alfabet”? Dalk die onmag van die digter om die skoonheid van die skildery weer te gee?
die kantklosser II
vir johanni
tot ek daar myself raakloop in ‘n onverwagse spieël:
vooroorgebuig intens toegespits op inslag en skering
van my vingers, wat ritmies lig woorde klos tot kant
die gare word haspelend melodies naatloos gekantel
tot tapytjies teks. strooi uit ‘n verbeelde spinnewiel
word ligtende nuttelose goudspinsels vol huiwering
ononthoubare herinnering van die ou streek brabant
intiem ingeweef tot fibreuse grein. als word bladstil
totdat die garings begin ligloop, tot tekstiel met siel
ineengeknoop. verf loop soos lewe uit die stuwings
van ‘n kussing, word ‘n lewende keper in my hand,
voel hoe met verrukking die gedig kant en klaar tril
totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand
sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.
*
Hierdie gedig bewys my hipotese korrek: die digter se obsessie met die kunstenaar, Vermeer, word in die slot uitgespeel:
totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand
sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.
Sonnet (stanza in Italiaans is kamer) en die “verbeelde vierkant” is slim gekies hier. “Fibreuse grein” aktiveer Roland Barthes se die grein van die stem. Dit is ‘n keuse uit sy onderhoude tussen 1962 -1980. En keper aktiveer op die keper beskou, met ander woorde, noukeurig beskou én beteken ‘n skuins lopende of geribde streep in ‘n weefsel.
Skryf as skering en inslag. Skryf as ‘n verbeelde of opgemaakte spinnewiel.
The pleasure of the text verwys na die (t)ekstase van skryf. Skryf as ‘n liggaamlike, selfs erotiese aksie, het Barthes in 1973 (1975) opgemerk. Plesier teenoor jouissance wat buite woorde lê.
II
Die literator Adèle Nel het besonder diepsinnig oor Cloete se ryk geskakeerde beeldverse geskryf o.a. in “Afgekyk van en nagepraat na …”: Nederlandse tekste in “Vroue van Vermeer” van T.T. Cloete Literator 23(1) April 2002:37-51.
Sy betrek eweneens die Bybel as verwysing: God is “lig” (1 Johannes: 1:5). Sy wys op die “Vroue van Vermeer” as kumulatiewe beelddig en betrek die teleskopiese raam van die vers. Háár fokus is anders en sy wys op die literêre gestalte wat meervoudig, multipleks gekonstitueer word; die vrou is soms in Cloete se poësie, soos ook in Leopold se digkuns, simbolies verteenwoordigend van die digter, of van die gedig.
In haar slot skryf sy wat vir ‘n verdere ondersoek vanuit ‘n genderperspektief uiters relevant sal wees:
T.T. Cloete se gedig “Vroue van Vermeer” wat hier bespreek is, is duidelik ’n “omzettingsproduct”, want agter die gedigteks skuil beeld-tekste sowel as woordtekste, wat op poëtiese sowel as poëtikale wyse getransformeer is. Die gedig is duidelik ’n digterlike herlesing van Vermeer se oeuvre wat uitmond in ’n interpretasie van die visuele tekste.
Die heraktivering van die vertroude gegewens van die brontekste vergroot inderdaad die semantiese universum van sowel die brontekste as die eindteks. Die gedig word voorts ook gemodelleer op die teoretiese poëtikale konsepsies, sowel as die versinterne poëtikale nosies van Nijhoff, maar is terselfdertyd ’n idiolektiese, versinterne uitspraak aangaande Cloete se ars poëtika. Binne dié literêre kokommunikasie is die literêre gestalte(s) van die vrou(e) dominant en word daar deur hulle op meervoudige wyse gekommunikeer.
Nel lees “Vroue van Vermeer” tereg dan as ‘n kollektief. Die ekfrastiese vers hier is ‘n samesnoering van verskillende vroue uit Vermeer se skilderye.
Vervolgens dan my interpretasie van die gedig:
Die herhaling van meestal impliseer dat daar ook uitsonderings is. “Mooi jong vrou” binnenshuis geplaas teenoor ‘n wêreld buite: sy ontvang ‘n brief en daar is ‘n wêreld met skepe en reise. Binne geplaas teenoor buite; maar stilte ook teenoor beweging en onrus. Die “oop grote universum” teenoor “die klein aardse geslote / stilte”. Ruimer ruimte teenoor afgemete vertrek.
Die slot impliseer dat in hierdie alledaagse bestaan word die onmeetlike (en onvoorspelbaarhede van skeepsreise, oorloë dalk) juis afgemeet en opgevang. Die kleinste, onbenulligste, obiter dictum verklap iets tersaakliks. Die liefde is ook hier. Sy hou in haar “gloeiende hand” ‘n brief vas; in ‘n ander skildery word die nek se skadu beklemtoon. Sy dra ‘n sonnende pêrel (‘n liefdesgeskenk), maar daar is ‘n skadukant aan hierdie geskenk of ‘n prys wat by implikasie betaal word.
Dof geplaas teenoor helder (lig).
‘n Gedig wat paradokse saam-snoer. En ‘n vers waaraan alle Vermeer-gedigte gemeet word. Cloete is immers die meester van die jukstaposisie.
Vroue van Vermeer
Dit is meestal ’n mooi jong vrou.
Meestal is sy alleen binnenshuis,
dalk met ’n wit veraf brief wat sy vashou,
naby, in ’n gloeiende klein hand
voor ’n kleiner of groter oop
venster. Daar kom ’n ligte geruis
van ’n wêreld aan uit ’n land-
of groter wêreldkaart
wat teen die muurvlak oorkant
hang, daar waar seestrome en wind loop
met haar land se ganse skeepvaart.
Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,
sy droom of sluimer
in lig wat in vlokkies of korrels brand
of dof kaats in die ruimer
ruimte van ’n skildery of spieël of in ’n wynhouer
ivoor maak, of sy speel klavesimbaal
of sy loer oor haar skouer
en dra ’n sonnende pêrel teen haar nek
se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal
ín in die liefs klein afgemete vertrek,
oorvloedig, uit die oop grote
universum en wat die klein aardse geslote
stilte in die onmeetlike laat asemhaal.
Bronne:
Barthes, Roland, 1985. The grain of the voice: Interviews 1962–1980. Londen: Jonathan Cape.
–1975. The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.
Cloete, T.T. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.
Gouws, Tom. 2010. ligloop. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, Joan. http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=ligloop Besoek 1 Oktober 2023
Nel, Adèle. “Afgekyk van en nagepraat na …”: Nederlandse tekste in “Vroue van Vermeer” van T.T. Cloete Literator 23(1) April 2002:37-51 Besoek 1 Oktober 2023
Odendaal, Bernard. https://versindaba.co.za/2011/02/14/ligloop/ Besoek 1 Oktober 2023
Vermeer: meisie met pêreloorbel
Jou tronie, geskilder in 1665
bekoor vele kenners; ander wonder
oor wie jy nou eintlik was, dié Griet,
groot-oog met goud-blou getulband.
Helaas word jy vir my omgetower
deur Scarlett Johansson in ‘n rolprent
in 2003 jare ná jou verblyf in verf.
Hoe sal ek vir jou uit die Goue Eeu
verduidelik dat ‘n film ‘n liegstorie
is in-raampies-vertel met iemand
wat speel asof sy jý is in die ateljee
voor Johannes wat sy vrou se oorbel
op bruikleen had om jou hart te wen?
In Den Haag, helaas word jy ‘n teiken
van klimaataktiviste en so bly ons wonder
oor jou, steeds: Meisje met de parel.
Alle reaksies bevestig net tydloosheid.
Joan Hambidge (Asindeton. Werk-in-aksie).