dit gaan ons nie meer aan nie
om te behou
of net te beskou –
dit gaan ons nie meer aan nie.
al hoor jy my nie, al draal
en draal jy soms,
dis wegskiltyd.
dis uitgooi en kaler maak –
jou dinge, my dinge,
ons dinge.
die damwal kraak, sypel
spoorloos uit lyf én taal,
sleur jare sand en plante saam
soos aftakeling bepaal.
dit gaan ons nie meer aan
om te berg en te behou nie.
niks is meer aanskoulik,
niks verg meer instandhouding nie.
niks is nodig om by te voeg nie.
ontruiming het ten minste
één uitsonderlike voordeel
met veroudering:
die laaste vervulling
vir ‘n nostalgiese herinnering
aan ’n lewe met malse lief
en min leed afgelê.
[co. marlise joubert / 2023]
Marlise Joubert