
Conservation Photographer of the Year 2022. First place goes to Simon Lorenz, for his photo of an Olive Ridley sea turtle entangled in a mass of ocean debris in Sri Lanka. Photo: Simon Lorenz / Ocean Photographer of the Year.
moedersee
(simon lorenz
– onderwaterfotograaf)
sy dra swaar
en al hoe swaarder
aan haar bodems sediment
sy is moeg vir die gefuif van mense
sy is tot die dood toe moeg
haar krop stu onder
rommel en lyke –
die onmin tussen afval en lewe
sy versuip in verstikkende ontbinding
in die sparteling van haar seeskilpaaie
sy hyg op knieë tussen oesters
op strande braak sy alles uit
bitterskuim stommel iedere dag
net om kop bo water te hou
maar die puin word
al hoe meer saam gekis:
bottels en maskers en melkkartonne
mikroplastiek en afgeloopte skoene
klerasie en oorpluisies nette en toue
dryfhout koerante en glase
grate en kiewe van dooie vis
haar neusgate brand van die stank
haar voete verstrengel in wier
en kelp deur spykers en skeepswrak
sy het nêrens om heen te vlug nie
sy het nêrens ʼn ander huis nie
soms gaan lê sy uitasem
tussen haar blouste sylakens
sprei haar arms wyd
oop in die son
ʼn skool klein vissies kom suig
aan haar melklose bors
© marlise joubert. Okt. 2022
