Resensie: Soekenjin deur Bibi Slippers. Tafelberg, 2023. ISBN: 9780624093831
Resensent: Mellet Moll
I.
Bibi Slippers se debuutdigbundel, Fotostaatmasjien (Slippers, 2016) is bekroon met die UJ- debuutprys, die Eugène Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys en die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Hierdie vier bekronings het ’n bepaalde verwagting ten opsigte van haar tweede digbundel geskep. Die onlangs verskene Soekenjin is ’n voortsetting van die digterlike uitbreiding en eksplorasie van metaforiek waarin kommunkasietegnologie vergestalt word. Slippers het in verskeie skrywersresidensies gewerk aan Soekenjin (Slippers, 2023).
Slippers is ook die medesamesteller van Nuwe Stemme 6 saam met Charl-Pierre Naudé. Sy behaal ’n BA-graad in tale met drama en filmkunde as tweede hoofvakke aan UP. Nadat sy in 2008 na Nieu-Seeland verhuis, skryf sy advertensies vir ’n radionetwerk. In 2010 keer sy terug na SA en voltooi ’n MA-graad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Sy is werksaam as joernalis vir LitNet en Rapport se tydskrif MyTyd en VISI, voordat sy na Johannesburg verhuis en in die televisiebedryf betrokke raak as inhoudsregisseur van Flits, kykNET se program oor mode, kuns en vermaak. Sy het ook haar eie programme behartig, In die bed met Bibi en Die nare waarheid, wat op kykNET uitgesaai is.
Karen de Wet het tydens haar commendatio van Slippers se UJ-debuutprys na die digter as ’n “hipster” verwys (De Wet, 2017), en elders word sy ’n “literêre popikoon” genoem. Hierdie doelbewuste vestiging van ’n bepaalde beeld wat Slippers van haarself skep, dra by daartoe dat die jonger lesers van poësie (soos generasies Y en Z) bereik word.
In haar PhD-proefskrif verwys Erasmus-Alt na die beeldvorming van Slippers as literêre glanspersoon en podiumdigter (Erasmus-Alt, 2019, ble. 272-308). Slippers se beeld as ikoon en die uitdrukking daarvan in poësie staan gevolglik in noue verwantskap met mekaar.
II.
Waar Fotostaatmasjien met die ontginning van analoogmetaforiek doenig was, dui Soekenjin op die mens se bemoeienis met die digitale wêreld. ’n Soekenjin is ’n rekenaarprogram wat ontwerp is om groot hoeveelhede inligting op die internet na te slaan. Die gebruiker verskaf sleutelwoorde waarna gesoek word, waarna die soekenjin ’n lys van relevante resultate lewer. ’n Soekenjin maak gebruik van ’n algoritme wat resultate prioritiseer en volgens relevansie of voorkeur rangskik. Die inligting wat geskandeer word, sluit webbladsye, nuusmedia, grafika, videomateriaal en ander lêertipes in.
In Soekenjin se persverklaring word die volgende oor die bundel gesê: “Soekenjin is ’n kontemporêre digbundel oor die Internet van Dinge. Dit is verse oor die soeke na liefde, na die self, na betekenis, na die regte woord en na banale inligting op die internet.” Die “Internet van Dinge” (Internet of Things (IoT)) verwys na die netwerk van fisiese objekte (dinge), soos dit gestalte vind in sensors, sagteware en ander tegnologieë wat ontwerp is vir die doel van verbinding en die uitruil van data met ander toestelle en stelsels oor die Internet. Hierdie toestelle wissel van gewone huishoudelike toerusting tot gesofistikeerde industriële modelle en het ten doel dat kommunikasie moeiteloos tussen mense, prosesse en objekte geskied. Die implisiete beskouing van Soekenjin is dus fenomenologies van aard.
Nikola Tesla het satelliettegnologie en koordlose kommunikasie tussen toestelle, reeds in 1926 voorspel toe hy tydens ’n onderhoud in Collier’s-tydskrif die volgende beweer het: “When wireless is perfectly applied the whole earth will be converted into a huge brain, which in fact it is, all things being particles of a real and rhythmic whole. We shall be able to communicate with one another instantly, irrespective of distance.”
Soekenjin besin oor die vlugtige en vervlietende aard van verbindings en verbintenisse tussen mense, hulle omgewing en objekte. Binne die onmiddellike, alomteenwoordige konkurrensie van die virtuele wêreld teenoor reële menslike verhoudings word die verlore liefde gejukstaponeer as ’n tasbare verlies; as die herinnering aan reële verhoudings. Die verbindings wat Slippers oproep, word na willekeur en by wyse van vrye assosiasie voortgedu. Van die soekvrae in hierdie internetsoektogte word gedigtitels; en soekresultate word aangebied as gedigte. Inderwaarheid skryf Slippers optelgedigte waarvan die internet die impetus vorm. Sy meld in haar “Erkennings” agter in die bundel dat Soekenjin se DNS direk van die internet kom: alle Google-soektogte word verbatim aangehaal, met gebruikers se spelfoute en hebbelikhede behoue. Daar word dus aanspraak gemaak op ’n outentisiteit waar daar aangehaal, gespoeg en geplak is uit die verskillende aanlyn bronne. Uiteindelik word die soekenjin ’n uitgebreide metafoor vir die spreker (en die mens) se ewige soeke, verlangens en begeertes. Die “alles” (ble. 11-12) in die programteks word deur die loop van die bundel vertaal in internetjargon; omgekeerd beskou, word terme uit die internettegnologie verpoëtiseer om metafore vir die verwonde menslike kondisie te skep. Die soekenjin as die kollektiewe menslike, libidinale drif rus nooit – en skakel nooit af nie.
Die internet bied aan die mens die geleentheid om onbeperkte toegang tot inligting te verkry wat veel rondom sy eie psige ontbloot: dit verklaar waarom kuberkrakers en omgewingsintelligensie (“ambient intelligence”) baie van ’n individu weet deur sy soekgeskiedenis te ontleed. Slippers illustreer hoe die mens, as onvervulde wese, sy eensaamheid kultiveer deur te ontvlug na die virtuele wêreld van die internet.
Die komplekse tematiek rondom verhoudings in Soekenjin toon raakpunte met Elyakim Kislev se werk, Relationships 5.0. How AI, VR, and robots will reshape our emotional lives. Navorsers verwys kortliks na hierdie nuwe verhoudings as “Relationships 5.0” (Kislev, 2022).
Volgens die sielkundige en sosioloog Sherry Turkle, het mobiele kommunikasie geleidelik verander wié ons is. Volgens Turkle is ons “alone together” – alleen saam. Ons verruil werklike sosiale kontak vir aanlyn kontak of aanlyn verbindings: I share, therefore I am. Op die sosiale media is daar baie outomatiese luisteraars. Mense het ’n behoefte daaraan om gehoor te word, om na geluister te word, dáárom voel virtuele kontak soos werklike menslike interaksie. Mense verwag nou meer van tegnologie, en minder van mekaar. Werklike-lewe-verhoudings is ryk, dog morsig en veeleisend. ’n Mens het min beheer daaroor, terwyl virtuele kontak jou definieer: Jy kan redigeer, uitvee, byvoeg – die lokus is een van beheer. Ironies genoeg lei hierdie aanlyn verbintenisse – met die skyn van sosiale kontak – net tot verdere isolasie, omdat mense wat verbind is, ánder mense gebruik om hulle brose self in stand te hou en te koester (Turkle, 2012).
Turkle beweer: “Two avenues forward became apparent by the mid-1990s. The first was the development of a fully networked life. Access to the network no longer required that we know our destination. With browsers and search engines – Mosaic, Netscape, Internet Explorer, Google – one had the sense of traversing an infinite landscape always there to be discovered. And as connections to the internet went mobile, we no longer ‘logged on’ from a desktop, tethered by cables to an object called a “computer.” The network was with us, on us, all the time. So, we could be with each other all the time” (Turkle, 2016).
Soekenjin word, soos in die geval van Fotostaatmasjien, gekenmerk deur die gebruik van konkrete poësie en semiotiese voorstellings.
Die omslagontwerp en bykans die eerste helfte van die bladspieëls is pienk. Sentraal tot die betekenisontsluiting van pienk as kode staan die rooskwartspienk wat deel vorm van die ikonisiteit en selfuitdrukking van generasie Y (millenniërs, gebore tussen 1982 en 1994) en generasie Z (gebore hierna, tot 2012). Die geel omslag van Fotostaatmasjien dui op ’n soortgelyke ikoniese uitdrukking. Hieruit kan afgelei word dat Slippers, die digter, haar status as millenniër en digitale boorling (“digital native”) vooropstel. Ook die Folk-sangeres, Tori Amos se album, Under the pink is ’n belangrike rigtingwyser in die pienk tematiek. Op ble. 66-72 en 74-75 word die verskillende soorte pienk beskryf in ’n loslit joernalistieke styl: soos dit voorkom in die populêre media; deur die loop van die geskiedenis; asook die beskrywing van allerlei trivialiteite rondom pienk. In verskeie gedigte word pienk as meerduidige kode in die bundel ingeskryf. Dit gaan hierdie leser ook nie verby dat 2023 geboekmerk word as die Barbenheimer-jaar nie. In die “Erkennings” (bl. 140) meld die digter dat sy van inligting op die Wikipedia-blad Pink Noise gebruik gemaak het. Die voortsetting van die sentrale beskouing in Fotostaatmasjien, naamlik dat daar niks nuut onder die son is nie en dat digters bloot foutiewe kopieë van gedigte (oor-)skryf, vind weer beslag in dié bundel. In haar commendatio haal De Wet uit die volgende gedig in Fotostaatmasjien aan, wat moontlik as een van die snellers in die totstandkoming van pienk as leitmotief gedien het (De Wet, 2017):
poësie probeer te permanent wees
wil monumentaal omgaan met pyn
pop spin spookasem van als wat
seermaak of plooie veroorsaak
hou dit lig en pienk en eetbaar, poëte
vergeet die gewete en hogere kuns
gaan koop vir jou hoëhakskoene
en ’n hotpant laat staan jou righteous
rant en word ordentlik meegevoer
deur die dinge wat nét flikker om die grense
van enige goedbeligte disko-dansvloer
Dat Slippers haar doelbewus besig hou met haar beeld as literêre popster of glanspersoon, word ook deur Erasmus-Alt bespreek aan die hand van haar groot gevolg op Instagram (Erasmus-Alt, 2019). Die sigbaarheid van die kleur pienk in Slippers se kleredrag en dekorinkleding in die foto’s is nie toevallig nie, dit is ’n doelbewuste poging tot koördinering met die ikonisiteit wat in haar poësie betrek word.
Die foto van die sterrebeeld op die omslag verbeeld die kosmologiese grootsheid van die internet, met die merker (“cursor”) wat daaroor skuif. Die spel met verskillende kleure, lettertipes en grafika in Soekenjin, soos byvoorbeeld die soekbalk wat WhatsApp-boodskappe voorstel, verbeeld die gedig as artefak en sluit aan by die postmoderne tegnieke wat veral in die 80’s, 90’s deur skrywers en digters gebruik is om collage, fotobeelde en die distorsie van tipografie voor te stel. Die onderskeid tussen hoë en lae kulturele produksie het vervaag, en die ironiese gebruik van grafiese voorstellings uit verskillende dokumente en media het hoogty gevier. Voorbeelde van twee sulke bundels is Lady Anne van Antjie Krog (1989) en Brief uit die kolonies (2003) van Marius Crous waarin die gebruik van grafika soos kaarte, grepe uit manuskripte en dagboeke ingespan word om opheffing van grense tussen verskillende estetiese genres in die hand te werk. In haar resensie van Fotostaatmasjien vra Hambidge tereg of dié bundel ’n soort post-postmodernisme verteenwoordig (Hambidge, 2016).
Slippers as mens, digter en literêre akteur word gekenmerk deur ikonisiteit, so ook die visuele en konkrete aard van haar poësie. Volgens Literêre Terme en teorieë het die “ikonisiteitsverskynsel sy oorsprong daarin dat alle kommunikatiewe elemente in die literêre werk eenstemmig is en mekaar oor en weer bevestig, dat hulle konfiguratief en kokommunikatief is” (Cloete et al, 1992). Fotostaatmasjien het vervolgens op die verhoog én as ’n musiekproduksie gestalte gekry. Slippers maak dit duidelik dat haar poësie as ikoniese kuns in alle genres gevier – en geleef – moet word.
Soos in die geval van Fotostaatmasjien skep Slippers ’n outobiografiese illusie en is dit liefdespoësie wat prominent verteenwoordig is in Soekenjin. Die ars poëtikale verse dien as vertrekpunt vir die soekende ek-spreker, soos dit beslag vind op die internet.
III.
Soekenjin daag die tradisionele rol as leser – of die rol van lesertipes binne die literêre kommunikasieproses uit wanneer die internet gesimuleer word deur die bladsy, “Meld aan”, waar die leser sy e-posadres en wagwoord moet invul. Slippers nooi die leser uit om te deel in hierdie literêre spel. Die invul van die gegewens bevestig dat hier van geen generiese lesing sprake is nie, maar dat elke “gebruiker” ’n unieke medeskepper van betekenis van die bundel is.
Die bundel is deurspek van motto’s wat lukraak voorkom: die gesimuleerde internet versmelt met dié van die tekstuele, en Maslow se behoeftehiërargie word een van virtuele behoeftebevrediging wanneer die soekenjin die simbool van lewe self word: “Whether in real life or in the digital world we understand that search enables us to exist – be it in a quest for food, shelter, or a mate. Search enables life. – Alan Emtage, uitvinder van die wêreld se eerste soekenjin, Archie.”
Slippers skryf amorfe poësie en werk genreoorskrydend. Die gebruik van elektroniese kommunikasie of gespreks- en omgangstaal (byvoorbeeld WhatsApp-taal) kom voor en selfs die slang word verpoëtiseer. In haar gesprek met Murray La Vita meld Slippers dat die onmiddellikheid en sirkulasie van taal op die sosiale media die taal “baie vinnig laat verslyt” (Slippers, 2023). Na analogie van Dominic Schrey wat na “textual ruins” in filmkritiek verwys (Schrey, 2017), kan daar eweneens verwys word na die tekstuele puin wat Slippers skep met Soekenjin. Op die internet verslyt die taal; dié taal word weer poësie, net om in die volgende soektog te verslyt. Die gedigte in die bundel word inderdaad vergesel van “pink noise” (bl. 140) asook ’n oorrompelende hoeveelheid informasie.
IV.
Die bundel is gerubriseer in drie dele. Die eerste afdeling, “Alles, oral, helemal gelyktydig” word op ’n swart bladspieël aangekondig. Die eerste subhofie wat volg, heet “PLAAS ALLES IN EEN MANDJIE.” Die prosagedig, “ek soek alles” (ble. 11-12) en “alles: ’n cento” (bl. 13) handel oor die hiperboliese en toutologiserende strekking van die internet. In “extremely online” (bl. 16) word die gedig as ’n produk van “copypasta” voorgestel.
In gedigte soos “2018: Year in Search” (ble. 14-15) word die hoër en laer kulture vermeng: die digter se bemoeienis met die populêre kultuur blyk hieruit, soos dit met talle verse die geval is. In die sosiologie lei die opvatting dat die postmoderne kultuur weier om die pretensie en vernaamheid van die kunste te respekteer, tot die opheffing van die onderskeid tussen hoë kuns en populêre kultuur (Brandist, 2022). Binne hierdie popkultuur betrek Slippers tematies die internetsoektogte/gedigte as deelversameling van die oppervlakkultuur. Die Amerikaanse netwerk-digter, Sasha Stiles, wat waarskynlik Slippers se Amerikaanse eweknie is, voer egter hierdie tegnologiese vormpoësie verder as Slippers – sy bou en programmeer haar eie taalbotte wat as metadigters in die skryf van haar poësie optree (Stiles, 2023). Om oor die internet te skryf, is, soos genoem, nié vernuwend nie – die internet bestaan al vir meer as dertig jaar. Die internet is alledaags, soos Slippers in haar gesprek met La Vita laat blyk.
Die tweede gedeelte, “GOOGLE MAPS” handel oor plekke, lokaliteit en ruimtes. In “vier poskaarte wat ek nooit gestuur het nie” (ble. 22-23) skep die nihilisme van die nooitgestuurde kommunikasie juis ruimte vir poësie: die poskaarte-as-verse bevestig die dualisme van die aan- en afwesigwees op die internet/ bundel.
Die derde gedeelte, “HELE ♥” betrek liefdesgedigte.
“Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte: ’n Collage uit twee resensies” (bl. 25) dui op ’n metatekstuele spel wanneer die leser verneem dat Slippers Joan Hambidge en Alwyn Roux se aanlyn resensies oor dié betrokke werk uitgedruk, opgeknip en geherrangskik het, soos yskasmagneet-gedigte (bl. 140). Hiermee debunk Slippers formele literêre kritiek en illustreer dat daar nie ’n einde aan tekstuele prosesse is nie.
Verwante soektogte aan Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte word verbatim aangehaal: “Diep liefdes gedigte” (sic) (bl. 28); “Kort liefdes gedigte” (sic) (bl. 28) en “Snaakse liefdes gedigte” (sic) (ble. 30-31). Onder dié reële soekhofies verskyn Slippers se verse dan as “soekresultate”. Hierdie almagaam van aanlyn brabbel en skeppende poësie vra verdere vrae wat besin oor die aard en wese van poësie.
In die vierde gedeelte, “GOOGLE CALENDER” werk die digter met tyd en verse oor minute, dae, jaarseisoene en verjaardae kom onder die soeklig. “Enkele momente uit die jaar van ja” (ble. 46-47) morf in ’n skril joernalistieke styl in. Die gepaardgaande wartaal (wat beweeg tussen anekdotiese internet-slang en poësie) boekmerk verjaardae, persoonlike hoogtepunte en die verlooptheid van geliefdes.
Die tweede oorhoofse afdeling heet “Soekenjin”, en die eerste subhofie is “KRUIP”. ’n Webkruiper (Engels: webcrawler of spider) is ’n sagtewarerobot wat die wêreldwyde web op ’n metodiese en geoutomatiseerde manier deurblaai. Webkruipers maak gewoonlik ’n lokale kopie van die opgeroepte bladsye om hulle sodoende later te kan verwerk of te indekseer vir soekenjins.
Slippers maak gebruik van die konkrete metafoor van die spinnekop in “kruiper” (bl. 55). Die opeenvolgende “webcrawler”-gedigte oor Anna-Mart van der Merwe (ble. 56-58) bevat aanhalings uit bestaande artikels wanneer “Anna-Mart van der Merwe” in Google ingetik word en die resultate verskyn. Intertekstualiteit, as tradisionele boekerige, stowwerige praktyke word debunk en die vervlietende aard van die soekresultate word nou die (versweë) interteks. Slippers ondermyn tekstualiteit, net om met nuwe tekste vorendag te kom.
Die tweede afdeling heet “INDEKS”, waarin verskillende soorte katalogusse of indeksering onder die soeklig kom. In “oggend: ’n indeks” (ble. 60-61) is dit oorwegend onomatopee wat in dié vers die pas aangee. Dit is ’n skitterende vers, en hier is Slippers, die digter, driedimensioneel teenwoordig. Dele iii-v uit dié gedig:
iii.
die sproeiers gaan aan, ’n straal water waaier
teen ’n staalpyp op, speel ’n toonleer met die glockenspiel
van druppels. ’n nar stik rokkies met ’n naaimasjien van lag. lugmag-
paddas doen diensplig en onderlangs marsjeer ’n kadetorkes miere.
daar is voëlgesang soos luitone, soveel fone wat vibreer, dial-up-
modems en tv games in blare en gras.
iv.
dit klink of die wind ’n laken uitskud, êrens lui ’n landlyn,
en gister los ’n boodskap na die beep. ’n k-pop band krieke drop ’n beat
’n noncommitalsonbesie oorweeg ’n bydrae. die nag is op life-support, long-
masjiene haal in die verte asem. Die son sit haar gps-horlosie aan, die wêreld
word aan ’n ketting opgewen. ’n bandsaag wil besigheid praat, die klanke
van die dag skakel aan soos ’n enjin.
v.
die helikopters keer terug met my ore. my ore doen berig
van klank. my ore verloor alle konsep van taal en kloek:
tjirrrrr tjirrrrrrrrr pew de poop piddipip pew pew pew krrr
goggol goggol tjirrrrrrrr wip wip gshhhhh fwwwp fwwwp fwop
my hand hoor die oggend, my pen praat voël. my vingers soek
vir ritme op sleutels, ’n woord kruip soos ’n kuiken uit ’n dop. (ble. 60-61)
In die daaropvolgende vers, “tikfoute: ’n indeks” (bl. 62) skep die digter ’n liefdesgedig wat meerduidig aandoen in die verwysings na die geliefde se talle tik- en spelfoute. Die “verkeerde” woord ondermyn alle denotasie van woorde, maar skep ruimte vir ’n ryke, konnotatiewe en idiomatiese interpretasie van die digterlike relaas. Hierdie leser kon nie help om deur die loop van die bundel te besin oor Derrida se différance nie; die arbitrêrheid van uitgestelde betekenis; die afstand tussen die betekenaar en betekende in Soekenjin is só groot, dit raak duiselingwekkend. Verskeie ander indekse kom vervolgens aan die bod en Slippers verpoëtiseer internetsnelskrif (“LOL”; bl. 70). Die reeds gemelde twintig anekdotiese verwysings na die kleur pienk kom voor in dié deel (“skakerings van pienk”: ble. 66-72).
Hierdie verse loop oor in “SOEKTOG”, waar werklike soekvrae as titels, en verse as die soekresultate aangebied word. Die fokus is steeds op die fenomenologie van die kleur pienk; daarná vrae en antwoorde oor God. Slippers bied op spontane en arbitrêre wyse soekvrae as poësie aan, vergesel van die visuele voorstelling van die soekvenstertjies. Die grense tussen die virtuele wêreld, fiksie, werklikheid en ander meta-inligting word opgehef en die internetverwysings word sélf poësie.
Onder die hofie “REËNBOOG EN NASIE” (bl. 81) verskyn ’n paar soekvrae, naamlik: “hoekom is my stoelgang groen”, “hoekom is my stoelgang swart” en “hoekom is my stoelgang geel”, wat, op die keper beskou, die kleure van die ANC-vlag verteenwoordig. Die betekenisimplikasie is dat die ANC hierdeur uitgebeeld word, metatekstuele kommentaar wat elegant en naatloos uit hierdie informasie vloei. Slippers skryf ook ’n paar verse oor “ghosting” op die internet (“vyf algemene vrae oor ghosting” – ble. 83-84) en waarin daar antwoorde (verse) gegee word op hierdie verskynsel waarom mense uit die bloute net alle e-kontak met jou verbreek.
“SOEKGESKIEDENIS” dui vervolgens op die betowering en nostalgie na dít wat verby is. ’n Soekgeskiedenis verwys na die websoekresultate van ’n lys van webbladsye wat ’n gebruiker besoek het – asook die meegaande metadata, soos hoeveel tyd ’n persoon gespandeer het op ’n bladsy. Slippers vertolk hierdie titel eerder poëties en verwys in haar geprek met La Vita na haar “stukkende sonnette” in hierdie gedeelte (Slippers, 2023). Die narratiewe gang van Soekenjin volg ’n logiese argumentslyn en opbou sedert die leser “aangemeld” het en déúr die prosesse van die soektogte gaan totdat hy “uitteken”. In hierdie deel word verslag gedoen van “die geskiedenis van sequins” (bl. 87-90): sterre wat sedert die oerknal miljarde jare gelede hulle verskyning gemaak het, maar ook talle anekdotiese, praterige stukkies prosa oor allerlei blink verskynsels. Slippers skryf vervolgens twee verse oor analoognostalgie naamlik “technoaural nostalgia whippets” en “Lonely T-Rex” (bl. 91- 92).
“WOLK”, die volgende gedeelte, handel oor die wolk wat as bergingsruimte (“cloud storage”) vir data dien. In die eerste reeks verse, “gmail: argiewe van die liewe” (bl. 94-99) word daar in ses verse gereflekteer op die oorblyfsels van ou liefdesverhoudings, soos dit beslag vind in ou e-posse. Die leser mag hierdie gedigte as verfrissend ervaar – óf as jeugdig (en selfs infantiel). Die Whatsapp-gedigte (“Backup: whatsapp”; bl.100-104), waarin die titels van die verse voorkom in die soekbalke of -vensters en die boodskappe dan die gedigte vorm, maak gebruik van van Whatsapp se skermikonografie: die tye wat die boodskappe gestuur of ontvang is, asook die twee regmerkies, wys dat die ontvanger die boodskappe gesien/gelees het. Slippers is bewus van die intrinsieke kommunikasieproses onderliggend aan poësie en stel dit visueel voor in ’n narratief wat nóg kletstaal, nóg poësie vorm. In die “Erkennings” noem die digter dat hierdie boodskappe wel dié van ‘regte’ mense is, wat verdere outentisiteit aan die outobiografiese opgaaf verleen en aansluit by die ars poëtikale (outobiografiese) stellingname in Fotostaatmasjien.
Die derde oorhoofse gedeelte, naamlik “Die digter haal asem” bevat die twee subafdelings, te wete “SEESTROOM” en “STROOM”. Die verse handel oor laasgemelde onderwerpe. Die aanhoudend veranderende lettertipe en gerondblaaierey in die bundel raak op die lange duur steurend, en dat Slippers ’n speletjie speel met haar lesers, raak duidelik. Ook in haar gesprek met La Vita sê Slippers: “Dis ’n speletjie! Dit bly ’n speletjie. Dis nie verskriklik … in hemelsnaam – dis gedigte! […] Daar is geen rede om dit te doen nie behalwe dat dit vir jóú lekker is en miskien vir ’n paar lesers ’n kick gee.” (Slippers, 2023)
Dalk voer Slippers hierdie spel net té ver.
Die volhardende leser word gelukkig beloon vir gedigte wat ruig is aan interteks, byvoorbeeld “as jy slaap” (bl. 114-115) roep Jonker se gelyknamige gedig voor die oog. Die afdeling eindig met gedigte oor God, die kleur pienk, en musiek.
Die bundel sluit af met die opdrag, “TEKEN UIT”, met dié motto:
“Verwerp Alles
Stoor my voorkeure
Aanvaar Alles” – met verwysing na die koekievoorkeure van Versindaba.
Slippers is bewus van die aanslag wat sy loods op die leser met die oorrompelende aanbod van die internet wat mens se aandag simultaan opeis. Daarom ’n volgende motto (ná die Versindaba-verwysing), waarin Thomas Flight waarsku dat mens jou tyd ekonomies en selektief op die internet moet bestuur. Slippers se eie genreoorskrydende verse in die bundel resoneer inderdaad met “the genre-bending post-everything world Bon Iver helped create” (bl. 126). Bon Iver is die naam van ’n Amerikaanse Indie folk-band wat genrevoorskriftelikheid uitdaag en debunk. “selfportret as poging tot stilte” (ble. 132-133) dien as ars poëtikale sinopsis tot die bundel, naamlik dat die self(-soeke) via internetsoektogte nimmer kan rus.
Op bl. 136 (“You’re probably beyond the reach of internet already…I hope you love it as much as I did”) skryf Slippers oor die infleksiepunt tussen die liefde en die verbindings op die internet. Dit dien as liefdesgedig, sowél as afskeidsgedig aan die leser van Soekenjin. Die digter is bewus van die vermoeiende ooraanbod van informasie, grafika en pogings tot genreoorskrydende poësie. Maar dit is vir die leser, wat nou “uitteken”, om te besluit of hierdie literêre “skadeloosstelling” van krag is.
V.
Soekenjin handel oor inligting, die ewige soeke van die mens deur die gebruik van ’n soekenjin; die sin (of onsin) van gesprekvoering en kletsgesprekke; die waarde van reële en aanlyn verhoudings; en talle ander verbindings. Turkle som die essensie van hierdie bundel ten beste op waneer sy sê: “Technology is seductive when what it offers meets our human vulnerabilities. And as it turns out, we are very vulnerable indeed. We are lonely but fearful of intimacy. Digital connections and the sociable robot may offer the illusion of companionship without the demands of friendship. Our networked life allows us to hide from each other, even as we are tethered to each other. We’d rather text than talk.” (Turkle, 2012)
Slippers het met die bundel die soekenjin, ewig werksaam in die digitale landskap, gekies as onderwerp – tematiek wat so wyd soos die heer se genade strek. Sy het oor ’n carte blanche beskik: ’n groot idee om sinvol af te baken en tematies te stuur. Die innoverende aanbod van semiotiek, intertekstualiteit en die debunking van argaïese literêre praktyke mog as oorweldigend ervaar word deur sommige lesers. Tog bereik hierdie geflankeerdery met die multimedia ’n versadigingspunt wat herinner aan ’n studentikose spel wat aanhou wanneer die leser lankal genoeg gehad het. Daarom mag sommige tradisionele lesers moontlik hierdie aanslag en oordaad voetwerk as ’n steurende versperring ervaar.
Slippers skep haar poësie in die doelbewuste simulasie van die aanlyn wêreld. Dit loods ’n aanslag op die leser wat juis gerig is daarop om ’n kognitiewe dissonans te wek. En dit is vir die leser, wat metafories individueel aanmeld en uitteken, om te besluit of die primêre aanbod van hierdie bundel, naamlik poësie, betekenisvol of goed is. Hierdie leser is van mening dat daar, tussen die internetgedruis van grafika, vervlietende stukkies informasie en pienk geraas wél ’n stewige distillaat goeie poësie te vind is. Slippers keer bestaande tekstualiteit op sy kop en illustreer dat die skep en herskep van poësie een van tekstuele puin word. Die internetgebruiker, soekend en ambivalent teenoor egte verhoudings en liefde, word uiteindelik deel van ’n groter kuberkultuur waarin die versnippering van taal die fragmentariese aard van verhoudings en gesprekvoering voorstel.
“Don’t all these little tweets, these little sips of online connection, add up to one big gulp of real conversation?” (Turkle, 2016, bl. 26)
Verwysings:
Brandist, C. (2022). From Literary Theory to Cultural Studies. De Gruyter, 821-832.
Cloete et al, T. (1992). Literêre Terme & Teorieë (Eerste uitg.). Pretoria: HAUM-Literêr.
De Wet, K. (2017, Julie 6). UJ-pryse 2017: Commendatio oor Bibi Slippers se Fotostaatmasien. Herwin van LitNet: https://litnet7.rssing.com/chan-53994718/all_p190.html?fbclid=IwAR3PqD8sakXR6XghG3GweXnHbEtTv_Izxh9tRxCVAp42oeiB6zno-Q3mJuU
Erasmus-Alt, J. (2019). Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ʼn Ondersoek na beeldvorming. Universiteit van die Vrystaat: Ongepubliseerde PhD-proefskrif.
Hambidge, J. (2016, November 13). Bibi Slippers – Fotostaatmasjien (2016). Herwin van Woorde wat weeg: https://joanhambidge.blogspot.com/2016/11/bibi-slippers-fotostaatmasjien-2016.html
Kislev, E. (2022). Relationships 5.0: How AI, VR, and Robots Will Reshape Our Emotional Lives. Londen: Oxford University Press.
Schrey, D. (2017). Analoge Nostalgie in der digitalen Medienkultur. Berlyn: Kulturverlag Kadmos.
Slippers, B. (2016). Fotostaatmasjien. Kaapstad: Tafelberg.
Slippers, B. (2023, Oktober 6). ‘n Soekenjin en die verslete gemors wat van taal oorbly. (M. La Vita, Onderhoudvoerder)
Slippers, B. (2023). Soekenjin. Kaapstad: Tafelberg.
Stiles, S. (2023, Oktober 31). Poetry is the original blockchain. Herwin van Sasha Stiles: https://www.sashastiles.com
Turkle, S. (2012). Alone Together: Why We Expect More from Technology and Less from Each Other. New York: Basic Books.
Turkle, S. (2016). Reclaiming Conversation: The Power of Talk in a Digital Age. Londen: Penguin Books.
‘n Puik resensie wat na aanleiding van “Hierdie almagaam van aanlyn brabbel en skeppende poësie vra verdere vrae wat besin oor die aard en wese van poësie.” my inderdaad weer laat besef ons het nog nie eers ‘n standhoudende antwoord op die vraag “wat is ‘n gedig” nie.