Tot die dood ons skei
Ons gly soos naaldekokers oor die water
verby Monet se breëblaarwaterlelie-skildery
aan weerskante van ons.
Die aandwind laat die skadu’s vlug
en ons lig ritmies die roeispane van ons kano
en steek gate in die stil rivier:
Sloep, slap, sloes, sloep, slap, sloes.
Die water glim ‘n geriffelde sinkplaat
in die maanlig voor ons uit.
Vyf-en-dertig jaar roei ons al so saam
oor die rondings van die jeug
en deur stroomversnellings,
voorwaarts,
tot ons velle waterrimpels raak
en die maan se strale
soos silwervisse in ons hare blink.
© Marthé McLoud, 2023
