Ons eerste “mediese” gedig vir die jaar!*
Allergie
As jong kind ‘n allergiese reaksie verraai
met bysteek en ‘n keel wat subiet toeswel:
erge asemnood met die vader wat my mond oop-sper
saam met my se mema wat jaag in eersterat na die hospitaal in Aliwal-Noord;
‘n anti-allergiese inspuiting red my lewetjie op ses.
Hierna moes ek weekliks op veertien in Pretoria behandeling
ontvang in ‘n kliniek (klein botteltjies, watte, ‘n naald se prik);
glo weerbaar gemaak teen ‘n anafilaktiese reaksie van die stilus,
twee weerhakies met bensokaïen om alles teen die gif te verlig:
‘n buik, spysverteringstelsel, senuwees ónseremonieel uitgedruk.
Tot sover die verweer teen vliesvlerkiges.
Hierna sou ek ander angels alleen moes verwyder soos verlatings
(die regte woord vir abandonment?): die donker gif van verraad,
die dood van my vader, my moeder, vriende, geliefdes én ‘n kameraad.
Strykdeur die onverwagsheid van hierdie snelskrif, ‘n keel oopgeruk,
nee oopgekap, waaruit woorde woorde woorde bly peul in ‘n soort pudridero.
© Joan Hambidge, 2024
* Gedigte wat vir die “mediese” kompetisie ingeskryf is, merk ons met ‘n (M) by die titel.
Hard en kras en treffend. So ontwikkel ons ‘n allergie vir die dood.