Bidmat
‘n Moslem-man wys sy gebedskleed,
een met verskillende kleure en lae
vir die daaglikse kniel sonder leed.
‘n Mat van jou met knope en weefwerk
gesteel uit my stoorplek met boeke,
donker herinneringe én vele steurwerk.
Iewers troos dié mat ‘n mens op ‘n ander plek;
koud, honger, weerloos en ek weet:
dis beter dat hierdie tapyt iemand nou bedek.
Jy het dit met tossels en weefwerk gelaat
toe jy sterf – onverwags – op ‘n Maandagoggend
in Wellington en ons almal sprakeloos agtergelaat.
© Joan Hambidge