wit rose
vir die soveelste keer
is sy oppad hospitaal toe
die keer met ‘n bos wit rose
toegedraai in die Times
se agterblad
lekkerruiknuus vasgebind
met ‘n dun stukkie tou
jy hoef nie bekommerd te wees nie
selfs nie as hy bloed hoes nie
dit kan dalk goed wees vir hom
kom die dokter se stem
vlugtig flikker daar
hoop in sy oë
dis wreed dink sy
die ratte wat dokters draai
die bedrieglike behendigheid
die kulkunsies en die plasebo’s
haar man vroetel met die rose
hoe lank is die stukkie tou
wil hy by haar weet
© Johan Swanepoel, 2024
Wit rose
Dit is ‘n aangrypende gedig Johan.
Groete!
Tannie Rita
Wildernis