Waterpokkies
Die kind se kop is ’n kookpot
vyftien dae nadat sy
by haar niggies
oorgeslaap het.
Dit voel of daar ’n swaard
in haar voorkop gedruk is
en haar keel is ’n veldbrand.
Dan verskyn daar in vlae
vir vier dae klein jeukerige kolle
regoor haar lyf kompleet soos
die puisiegesig van haar tienersuster,
selfs op haar kopvel en in haar mond.
Dokter sê dis die varicella-zoster virus
of sommer pleinweg waterpokkies,
’n algemene kindersiekte. Niemand
gaan sommer dood daarvan nie.
Die uitslag raak dunwandige blasies.
“Hou op krap!” raas haar Ma
en smeer kalamiensalf aan. “Jy wil nie
met liederlike merke sit nie!”
Jare later swem sy saam met
een van haar niggies. Op haar rug
sit die argelose letsels van die jeug.
Daar is geen salf aan te smeer nie.
© Marthé McLoud, 2024