Marlies Taljard gesels vandag met Joan Hambidge.
Marlies Taljard (MT)
Joan, baie dankie dat jy die tyd gemaak het om te gesels oor jouself en jou digterskap. Ek waardeer dit!
Waar kom jy vandaan? Vertel asseblief iets van jou jeug en jou kleintyd. Wat het jou gemaak wat jy nou is?
Joan Hambidge (JH)
Ek is ‘n nomaad. Gebore op Aliwal-Noord, grootgeword op Witbank, in Pretoria en op Standerton.
Altyd die nuwe kind in die klas. ‘n Goeie leerskool: niks is permanent nie. Dalk hierom so gaande oor reis?
Die digkuns het my geanker op plekke waar ek vervreemd gevoel het. Die skoolbiblioteek en dorpsbiblioteek was ‘n wonderlike ruimte. As jong student hier ‘n hele vakansie Ulysses deurgewerk met Stuart Gilbert se handleiding neffens my. Opgeskryf in ‘n groen Ou Mutual-dagboek wat my vader vir my persent gegee het.
En Nuwe verse gelees en Eybers. En veral Plath.
MT
Wat doen jy deesdae? Watter beroep beoefen jy, waar woon jy, wat doen jy in jou vrye tyd? Met wie deel jy jou lewe?
JH
Ek is afgetree. Was vir 30 jaar verbonde aan UCT as professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk en is tans ‘n senior navorser.
Met wie ek my lewe deel, is privaat.
MT
Het jou beroep ʼn invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy opgedoen het, die onderliggende teorie …?
JH
My werk as teoretikus, dosent en kritikus het my digkuns enorm beïnvloed.
Die werk van Umberto Eco het my alles geleer van die sogenaamde modelleser. Roland Barthes oor die grein van die stem. Hélène Cixous oor die lag van die Medusa. Derrida oor absence/presence.
Ek lees ook handleidings oor die digkuns (soos Ottone M. Riccio) en weet dat die digkuns alles te make het met tegniek. Hennie Aucamp het alles geleer oor hoe jy moet vertel.
MT
Hoe sien jy jouself as mens en as digter? Het jy in jou lewe en skryfwerk gegroei?
JH
Hieroor moet die leser liefs self besluit. Watter mens skuil agter die gedig? Of is die digter soos ek in Bitterlemoene beweer het ‘n Hitchcock-figuur wat net soms in die gedig sigbaar is? Hopelik het die digter gegroei en tegnies meer bedrewe geraak.
MT
Waar kom jou liefde vir woorde vandaan? Hoe lank skryf jy al en wat skryf jy alles?
JH
Ek skryf sedert my skooljare. Eers prosa en toe later in die vroeg-tagtigerjare begin met die digkuns. Dit was ‘n lang leerproses. Eers was dit dagboeke aan myself; later aan ander briewe geskryf.
Ek skryf gedigte, rubrieke, romans, kritieke, resensies en is nou besig met ‘n skryf-memoir: Hart sonder hawe.
MT
Is jy ʼn leser, en wat lees jy? Watter teks(te) het jou die meeste aangegryp?
JH
‘n Skrywer moet ‘n leser wees. Ek is deur soveel tekste bekoor dat dit onmoontlik sal wees om alles op te noem. Nou onlangs het Ilse Salzwedel op Skrywers en Boeke (13 Maart 2024) die volgende gevra:
- En dan ‘n laaste vraag: is daar ‘n boek wat jy wens jy geskryf het? Enige taal, enige genre?
Umberto Eco se Die naam van die roos.
Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins.
Georges Perec se Life A User’s Manual.
Margaret Atwood se Cat’s Eye.
N.P. van Wyk Louw se Tristia.
Skrywers en boeke 13 Maart 2024
MT
Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf? Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?
JH
Ek skryf gedigte met die hand. Dit kom broksgewys by aan en dan op ‘n dag word ek geweldig moeg. Gaan rus en dan kom die gedig uit. En dan herbesoek ek dit in vele weergawes.
MT
Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig? Wat stem jou onrustig? Wat haat jy? Waaroor droom jy?
JH
Dit staan alles opgeteken in my gedigte. Dit was die liefde, abandonment, die dood; nou die digkuns-as-reis.
Pattern, plots and paranoia
Invektief of Pejoratief
word die vraag in hierdie bedryf:
‘n cul de sac of keerweer?
Tony Tanner in Thomas Pynchon
verwys na perfekte alliterasie
en dalk die onomatopee?
Alles opgeteken in V
(oor Lacan se tirannie van benaming)
en die rioolpypkrokodille
van New York, word monsters
soos in alle distopiese tekste
in ‘n vers: kloktoring of Campanile.
Liewerlee, langsamerhand
kyk ek terug oor ‘n afgrond
oor onthou se geluidlose klanke.
MT
Is daar iemand wat jou inspireer om te skryf, iemand wie se werk jy bewonder of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?
JH
Die latere Eybers, Opperman, Louw …
Emily Dickinson, Robert Pinsky, Wallace Stevens …
Ek lees Johann de Lange en Johann Lodewyk Marais as twee tydgenootlike bakens van my. Ons het op dieselfde tyd op die toneel gekom.
Groot digters word dikwels onwetend mentors vir ‘n digter immer op soek na verbetering.
En natuurlik: altyd klop ek aan by Freud, Jung en Lacan.
MT
In hoeverre steur jy jou aan kritiek?
JH
‘n Digter moet haar aan kritiek steur, al is dit hoe persoonlik of van die punt af. Al is daardie kritikus-as-digter self maar vals en van die noot af.
Ek is altyd verbyster wanneer digters terugdeins van ‘n negatiewe resensie. Dit is meer waardevol as die simpel applous op ‘n gedig.
MT
Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?
JH
Al die raad staan opgeteken in die weeklikse aflewerings op Versindaba: Kringloop.
MT
Deel asseblief met ons een gedig in jou oeuvre (of ook meer as een) waarvan jy baie hou.
JH
Skryfode
Oor die misverstane woord
is daar nooit weer ‘n gedig te skryf nie.
I
Dit begin met die wekker
wat te vroeg lui
die katolieke nonne se gebede
en die oggendverkeer wat steur
en die koerant wat vir die hoeveelste-soveelste keer
die nuus van ‘n brutale moord dra.
Hoe brutaal het woorde nie tussen ons
geword nie. Ons dra almal in hierdie land verwyt op die mou.
Oor ons almal hang ‘n skadu van treurigheid,
van swaarkry. Almal ken ‘n iemand van ‘n iemand van ‘n iemand
wat moord oor sy voorhek sien kom het soos ‘n opskepgas.
Daar is geen woord so leeg
soos die digterswoord. Die digtende woord wat hierdie tristesse
moet uitblaker. Kyk, ek kan nie meer sonnette oor die liefde
of eensaamheid maak nie. Elke rymende aa, bb-kwatryn oor breekbare borde
klink so bourgeois – soos ‘n Boergondiese restaurant
in die hart van my stad.
II
Ek reis oor die rymende Franse gebergtes
waar die stilte antwoord gee. Die stilte
van skryf. Vroeër had ek meer krag, my lief.
Kon ek ‘n vers gaan haal soos ‘n diepseeduiker
in die Fillipyne, ‘n bungyjumper by die Grand Canyon
of ‘n pêrelvisser in Japan.
Toe kon ek doof word van ‘n gedig se woordelose asemhaal,
my verlustig aan die ryme se opstand, die ritmes se sloerstakings
soos opstandige werkers. Ek kon woorde maak
en veral breek. In Amsterdam lui ‘n kerkklok
die afskeid aan ‘n vroeëre verbintenis wat ek tydsaam, wanhopig
in breekbare verse kon stulp.
III
Vandag treur ek oor jou en my. Oor ons liefde
ons nie beskerm teen hierdie geweld van woorde nie.
Dat die groter onrus ons ook aanval.
Laat ons altyd ons woorde een vir een omdraai
soos ‘n suinige penningmeester die kerk se kollekte tel,
of ‘n hees kerkklok op die platteland
wat op ‘n Sondagaand almal terugroep.
IV
Vir jou sal ek net altyd ‘n sagte vers skryf.
So sag soos die vlerk van ‘n fladderende vlinder.
Oopgevou, soos ‘n digter iewers skryf, met ‘n boodskap
van hoop.
Uit: Ruggespraak. Protea, Pretoria. 2002.