wanneer ʼn ambulans
straataf ry om middernag
wanneer ʼn ambulans
agter die tuinmuur straataf ry
bars kopligte tussen blare deur
wanneer ʼn ambulans straataf
breek die sirene in skerwe
teen my kamerkantgordyn
draai kaleidoskopies weg
wanneer ʼn ambulans
in die donker sluit my oë dig
teen sirkels lig en blare
soos lank gelede my hart
wanneer
word ek wakker
in die oopoog môreson
skerfloos in die doodse
stilte van ʼn gordyn
© marlise joubert/2024
Wat ‘n treffende gedig.
Inderdaad.