Gabish
Begryp meteens (via Eliot)
waarom April
die wréédste maand is.
Capisce! Roep jy uit
en slaggereed
jy vir dié tyd van besinning.
Die kruisiging in kunswerke
bring geloof teenoor
twyfel vir ons helder na vore.
‘n Gedaante soos weerlig
met kleding wit
soos sneeu kom uit die hemel.
Weerlig van die ongeloof,
meen my digtersvriend;
‘n ander besing die opstanding.
Oor al die nadenke telkens weer
die verhaal van Josef
van Arimathéa wat die liggaam
in skoon linne toedraai
en my vader wat bid
oor die versekerde graf
met ‘n verseëlde steen
in die teen-
woordigheid van die wag
wat April vir ongelowiges
en agnostici reduseer
tot toorn en geskreeu.
Soos De Lange, Cussons,
nes Krog, immer hierdie soeke
na daardie skittering dúrend.
© Joan Hambidge, 2024