Selfportret op 67
Om myself in die oog te kyk:
skets van die self (by verstek)
met boeke en notas in my vele
biblioteke en argiewe nou tuis.
Reisverslae, liefdesverbintenisse,
briewe van my ouers en Eybers
(voor in Neerslag), fakture,
strokies van restaurante besoek.
Die inboks en ‘n deleted een:
‘n eiesoortige argief vol vergete
boodskappe soos ‘n vergadering
(buitengewoon) van ‘n shareaholic
‘n out-of-jail-card en ‘n skrywer
se boek oor aandadigheid en skuld.
En jy, wat telkemale opgemerk het:
lewe soos dood, bly dalk onvereffen.
‘n Stilportret op 67 op pad na 68.
© Joan Hambidge, 2024