Toe het hulle geweet
Hy het verander.
Hulle skrander seun
hulle bruisende brander
wou skielik net alleen wees.
Agter sy toe deur het hy lugkastele
stof tot stof verplof.
Hulle het ‘n goeiende vrees
lomp verreken:
wie is hierdie stom
vraagteken?
Dan maar ‘n antwoord haal
uit die taal
van skouer ophaal.
Niemand het die wrakstukke
in sy oё gesien nie.
Op ‘n dag is hy dood-
gewoon daar weg.
Hulle het geskok
die nuus op TV sien breek:
bebloede geboue,
stukke uit die lyf geruk,
dan, sy gesig
geraam
soos in ‘n begrafnisbrief,
sy naam
soos ‘n vervloeking uitgespreek.
Toe het hulle geweet.
© Vincent Oliphant, 2024