“Khwezi”
vir Fezekhile Kuzwayo (1974-2016)
Hulle was helde
my pa en hy
in die hel van daardie sel
wat hulle so diep moes deel
toe hulle beste jare gesteel is.
Was dit my pa se laaste vraag
in die oomblik voor hy sterf?
Wie sy vaderskap sou erf?
Hom oor my sou ontferm?
My teen die wolwe sou beskerm?
Hy was ‘n oom vir my, daardie man
in wie se huis
ek net ‘n tydjie wou verwyl.
Ek het nooit die kwyl
uit sy kake sien tap nie.
Dis oor ek ‘n stukkie lap gedra het,
‘n kanga
wat daarvoor gevra het,
was sy verweer.
Sy bende en sy hallelujah koor
wou nie hoor
hoe my waardigheid
van my lyf geskeur is nie.
In my ellende
wou hulle my
soos ‘n heks verbrand.
Ek moes landuit
vlug
met die vlamme van my ma se huis
lekkend aan my rug.
Die naam “khwezi”
was my stukkende mantel
in die rukwind van die vreemde.
Nou het die dood my bevry
om die naam terug te kry
wat so liefderyk en vol
van my pa se tong kon rol:
fezekhile, my liefling, fezekhile.
© Vincent Oliphant, 2024
Hartverskeurend. En daai oom kwyl net aan na die volgende prooi! GBV en molestering moet end kry!