My hart ʼn warm vuurherd
In my woning is daar geen kaggel
in die stadskom verbied
net blitsende vure van onthou
oor ʼn tyd (vir die rekord) verbrou.
Danksy afstand sonder ʼn kaggel
systap ek ʼn rymwoord soos berou.
In my woning staan daar geen kaggel
in die stadskom verbied
net my digterlike hart steeds trou
aan vorme soos ʼn gebreekte sonnet,
lankal verby die kwatryn of oktet,
soekend na iets vir hierdie kaggel.
© Joan Hambidge