Alwyn Roux peins oor Luuk Gruwez se woorde in die muurgedig “Brief aan een architect”
Agtergrond
Vroeg op Sondagoggend 17 Maart 2024 het ek saam met Alwyn Roux en Tom Dreyer ’n stadswandeling langs die muurgedigte in Tilburg gemaak. Die meeste muurgedigte is deur eks stadsdigters geskryf. Die twee uitsonderings kom uit die pen van Martinus Nijhoff met sy klassieke jeug gediggie “Roeien” uit 1910 en die Vlaamse digter Luuk Gruwez met sy driedelige “Brief aan een architect” uit 2003, gepubliseer in die literêre tydskrif “Het Liegend Konijn”. Laasgenoemde gedig staan sedert 2006 in reflekterende glas teen ’n symuur van die argitekkantoor Luijten-Smeulders. Dit was by ons omdraaipunt anderkant Wilhelminapark. Ek het tydens Covid-19, op ’n ongeoorloofde stadswandeling terwyl ons almal aan ons huise gekluister was, met hierdie gedig kennisgemaak. Die weerskynsels in die glas het my gedwing om aandagtig te lees. Ek het met ’n skok besef hoe van toepassing dié gedig is, terwyl ons elkeen met ’n intieme stryd teen die koronavirus in die privaatruimtes van ons eie huise besig was.
(Carina van der Walt)
***
Luuk Gruwez is gebore in die Wes-Vlaamse Kortrijk en debuteer in 1973 met sy digbundel “Stofzuigergedichten”. Daarna volg ’n reeks digbundels wat hy skryf nadat hy na Hasselt verhuis het.
“De feestelijke verliezer” (1985) is bekroon met die Dirk Martensprijs, “Dikke mensen” (1990) is bekroon met die Prijs van de Vlaamse Poëziedagen, “Het bal van opa Bing” (1994) is bekroon met die Gertjan Lubberhuizingprijs en ’n jaar later is ook “Vuile manieren” (1994) bekroon met die Hugues C. Pernath-prijs. Na hierdie reeks pryse ontvang hy ’n skrywersbeurs en word voltyds skrywer. Gruwez het vir etlike jare rubrieke in die koerante De Standaard en De Morgen hanteer. Hy bly veral digter. In 2009 verwerf hy die bekende Herman de Coninckprijs vir die beste gedig van die jaar met sy gedig “Moeders” uit die digbundel “Lagerwal”. Sy jongste bundel heet “Balts” uit 2023.
Brief aan ’n argitek
I
Bou, cher ami, dit is ’n saak
van sleutelgate. Alles staan of val daarmee.
Vergeet desnoods ’n deur of twee, ’n trap-
portaal of wc. Vergeet veranda, hal en trap.
En ook ’n dak word nie vereis nie,
want heelwat gasvryer is ’n huis daarsonder.
Maar sonder sleutelgat bestaan geen huis nie.
Deur sleutelgate blyk eers regtig
wat van die een of van die ander,
wat binne, wat buite, hier of daar is.
Sorg dus, my vriend, vir sleutelgate.
Ontwerp ’n huis met soveel sleutelgate
dat dit skaars nog sigbaar is.
En gooi vervolgens alle sleutels weg.
II
Let wel, my vriend, vertrou, maar bou nie roekeloos nie,
want elke huis bevat die kosmaak en die drome,
die tob en die fop, die rym en dan die bemin.
In elke huis is die gedagte aan ’n huis,
sê maar ’n ander en ’n fraaier huis.
En ook bevat dit soms (al moet jy goed soek,
al gee dit homself eers na jare prys),
maar dit moet gesê word dat elke huis
sy ineenstorting bevat. Wanneer jy van jou dak
wil val, is dit derhalwe wenslik
om dit slegs te doen
nadat jou huis finaal ineengestort het.
III
Êrens, cher ami, moet daar ’n huis bestaan
– miskien wel nie deur jou ontwerp nie –
wat ruimhartig sy deure vir my oopgooi
en my met al sy kamers verwelkom.
Vir verligting, ’n gesug of ’n segelied,
om net betyds nog onderklere af te stroop:
daartoe leen die wc hom by uitstek.
Dit lyk asof die solder staan en tintel,
tot in sy nok vervul van seunsdrome.
En hoor hoe die sjampanjeglase rinkel,
hoe entoesiasties die bedvere piep.
Maar word nie êrens in ’n goor hok
’n oud en onhoudbare verdriet neergeplof nie?
En word vir die diepe, vir die duistere,
vir die nietige vernielbare wat wou bly,
nie onophoudelik kelders gebou nie?
(En waar het, menselief, die geilheid gebly?
Die geilheid, meneer, hierdie soseer vergeefse,
die geilheid gee nooit ’n tuiste nie.)
Tog skort dit hier en daar die mure aan herinnering.
Tog is daar nood aan nuwe dooies, nuwe anekdote.
Die kamers vra nog verleë om hul samehang.
Pas dan ontstaan daar ’n eendragtige huis.
Pas dan is dit tyd vir intimiteit.
Laat my dan woon.
****
Brief aan een architect
I
Bouwen, cher ami, het is een zaak
van sleutelgaten. Alles staat of valt ermee.
Vergeet desnoods een deur of twee, een over-
loop of een wc. Vergeet veranda, hal en trap.
En ook een dak is niet vereist
want veel gastvrijer zijn de huizen zonder.
Maar zonder sleutelgat geen huis.
Door sleutelgaten blijkt pas echt
wat van de een of van de ander,
wat binnen, buiten, hier of ginder is.
Zorg dus, mijn vriend, voor sleutelgaten.
Ontwerp een huis met zoveel sleutelgaten
dat het nog amper zichtbaar is.
En gooi vervolgens alle sleutels weg.
II
Let wel, my vriend, vertrouw, maar bouw niet roekeloos,
Want ieder huis bevat het koken en het dromen,
Het tobben en het foppen, het rijmen en beminnen.
In ieder huis zit de gedachte aan een huis,
zeg maar een ander en een fraaier huis.
En ook bevat het soms (al moet je wel goed zoeken,
al geeft het zich alleen na jren prijs),
toch dient gezegd dat ieder huis het
instorten bevat. Wanneer je van je dak wilt
vallen, is het derhalwe wenselijk
dat enkel en alleen te doen
nadat het huis finaal is ingestort.
III
Ergens, cher ami, moet er een huis bestaan
– misschien wel niet door jou ontworpen –
dat genereus zijn deuren voor mij opengooit
en mij met al zijn kamers welkom heet.
Voor opluchting, gezucht of zegenzang
om net bijtijds nog afgestroopte slips:
daartoe leent zich bij uitstek de wc.
Het lijk alsof de zolder staat te popelen,
tot in zijn nok vervuld van jongensdromen.
En hoor hoe de champagneglazen rinkelen,
hoe enthousiast de beddenveren piepen.
Maar werd nergens in een ranzig hok
een oud en ouhoudbaar verdriet neergeploft?
En worden voor het diepe, voor het duistere,
voor het nietige vernielbare dat blijven wou,
niet onophoudelijk kelders gebouwd?
(En waar is, mensenlief, de geilheid gebleven?
De geilheid, meneer, die zozeer vergeefde,
De geilheid geeft nooit thuis.)
Toch schort het hier en daar de muren aan memorie.
Toch is er nood aan nieuwe doden, jonge anekdoten.
De kamers vragen nog verlegen om hun samehang.
Pas dan ontstaat er een eendrachtig huis.
Pas dan is het tijd voor intimiteit.
Laat mij dan wonen.
*****
Vertalersnota
Die vertaling van Luuk Gruwez se gedig “Brief aan een architect” was my eerste poging om van Nederlands na Afrikaans te vertaal. Ek het die muurgedig in regte lewe gesien, en die ontwerp daarvan op die glas van ’n gebou was indrukwekkend vanweë sy grootte. My PhD-proefskrif handel oor Heidegger se bewoningsfilosofie in sy essay “Bauen Wohnen Denken” (1952), wat aansluit by die idee van woon in Gruwez se gedigsiklus.
Oor die vertaling self: ek skryf die vertaling direk op papier neer en raadpleeg die Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands (Pharos 2011) vir woorde waarmee ek sukkel. Byvoorbeeld, ek het “hal” in die eerste strofe onveranderd gelaat vir ritme, omdat dit in Afrikaans die idee van ’n “portaal” behou. “WC” het ek behou omdat dit algemeen bekend is in die Nederlandse konteks, alhoewel dit na “WK” vertaal kan word.
Ek het valse vriende probeer vermy, soos “amper”, wat Carina van der Walt my daarop gewys het, in Afrikaans effens anders beteken. Met die woord “skaars” wen mens ook aan alliterasie (“skaars sigbaar”). In die tweede deel het ek gesukkel met “bevat het koken en het dromen, / het tobben en het foppen, het rijmen en beminnen”, omdat Afrikaans eenvoudiger werkwoordverbuigings het. Ek het dit vertaal na “bevat die kosmaak en die drome, / die tob en die fop, die rym en dan die bemin”, met ’n tydsaspek (“dan die bemin”) om die gevoel te behou.
In die derde deel was “[h]et lijkt alsof de zolder staat te popelen, / tot in zijn nok vervuld van jongensdromen” uitdagend. Aanvanklik het ek “dit lyk asof die solder kriewel” gebruik, maar het uiteindelik besluit op “dit lyk asof die solder staan en tintel, / tot in sy nok vervul van seunsdrome”. Ek het probeer om so na as moontlik die ritmes in die gedig te behou, alhoewel dit nie altyd moontlik is om die Afrikaans presies soos die Nederlands te laat lyk nie.
Ek beskou hierdie proses as ’n leerskool en sien uit daarna om meer gedigte van Nederlands na Afrikaans te vertaal. Dit is nie net ’n waardevolle oefening in die vertaalpraktyk nie, maar dien ook as inspirasie vir my eie digkuns. Ek wil graag Carina van der Walt bedank vir haar waardevolle insette ná my eerste pogings.