Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
26 July 202430 July 2024

Resensie: “Miniatuur”. (Johann de Lange)

 

 

 

Resensie: Miniatuur, Johann de Lange, 2024, Gansbaai: Naledi.

Resensent: Dewald Koen

 

Soms wonder ek wat dit is omtrent die digkuns wat poësieliefhebbers bekoor. Is dit die bekroonde digter se naam op die digbundel se voorplat? Of miskien die bandontwerp deur boekontwerpers soos Michiel Botha of Karen Cronje? Dalk is dit die blakerteks waarin gesoute literatore soos Joan Hambidge of Louise Viljoen ’n vorige bundel se lof besing. Sonder om ’n digbundel op sy (of haar) baadjie te takseer, bly daar immers ’n enkele kriterium om die digkuns te takseer naamlik die woord.

In die opsig stel ’n digter soos Johann de Lange selde teleur. As digter, skrywer, redakteur, vertaler en samesteller het De Lange die afgelope vier dekades ’n onuitwisbare stempel op die Afrikaanse poësielandskap afgedruk. Sedert sy digdebuut in 1982 met Akwarelle van die dors verras De Lange telkens met sy digvernuf soos weer die geval is in sy jongste bundel getiteld Miniatuur.

Alhoewel die bundeltitel sinspeel op ’n objek van klein formaat hetsy ’n taak wat op kleinskaal aangepak word of ’n beeld wat in klein formaat op doek vasgelê word, is die bundeltitel in die geval eerder ’n verkorte blik op die lewe en alles wat daarmee gepaard gaan. Christiaan Diedericks, wat ook die skets op De Lange se vorige bundel Duimnaelsketse (2020) geteken het, maak van die skilder Albert Dürer se bekende skildery getiteld “The Stag Beetle” (1505) gebruik om visueel gestalte aan die titel te verleen. Die nederige kewer simboliseer die klein gestalte en verganklikheid van mens en dier in die konteks van die kosmos, maar dui verder op die bondige vorm van die kwatryn as digvorm. In “Iriserend” word die kewer soos volg omskryf:

Uit die vergruisde glansgroen vlerkdop

wat dié nederige kewer bring

kom die kosbare glimgroen pigment

wat die kapel se koepel laat sing.

 

Dit is egter die programgedig getiteld “Skryf as bonsaikuns” waarin die bonsaiboom die bundeltitel die sterkste eggo:

 

Die aandag van die oog se lens

& die gawe van die verdig(sel)kuns

(die tydsaam verbuig & wegflens):

Openbaar die kwatryn as bonsaikuns.

 

De Lange se vernuftige gebruik van die kwatryn as versvorm is reeds in Weerlig van die ongeloof (2011) asook Duimnaelsketse (2020) tentoongestel. Ook hier word die skryf van ’n kwatryn met “bonsaikuns” vergelyk aangesien beide op die “miniatuur” fokus hetsy as digvorm of objek soos die bonsaiboom. Die gebruik van die metafoor skakel op geslaagde wyse met die titel en bring die kewer se “glansgroen vlerkdop” met die “glimgroen pigment” van die menslike oog (“kapel se koepel”) byeen. Die metafoor waarin die iris figureer word herhaal in “Die landskap is ’n gesig”:

 

Die landskap is ’n gesig

waarin die blou iris by dag

digte wenkbrou & wimpers

van ’n woud by nag.

 

In Egiptiese mitologie word die kewer beskou as ’n simbool van hergeboorte en transformasie. De Lange se kwatryne is in vyf afdelings naamlik “Voëls”, “Middernagtrein”, “Kom herfs, kom winter”, “Afsien” en “Rust-mijn-ziel” gerangskik. Hierdie afdelings sluit aan by ’n sirkelmotief en skep die idee van ’n lewensiklus van nietige wesens soos mens en dier wat in die onderskeie kwatryne vergestalt word. In die opsig is die Nederlandse digter, Jules Deelder, se woorde uit sy gedig “Voor Ari” belangrik waarin die spreker die verganklikheid as deel van mens en dier se lewensiklus beaam: “Hoe langer je leeft / hoe korter het duurt”. Die kwatryn “Die jaar laat val sy oker vrag” sluit by hierdie verganklikheidsmotief aan: “Ryk geblakerd smeul die tuin oplaas, / sy afskeid is ’n koper waas”.

Soortgelyk aan Duimnaelsketse bevat die eerste afdeling van die bundel verskeie kwatryne waarin diere soos voëlspesies, lammers, perde, katte en robbe voorkom.  In “Winternag, 2019” tree die spreker intertekstueel met Eugène Marais se bekende “Winternag” (1905) in gesprek:

 

Bitter, bitter koud hier

Die rankrose roer nie,

al wat leef, hiberneer

& geen duiwe koer nie.

 

In die tweede afdeling met die gepaste titel “Middernagtrein” verken De Lange oudergewoonte die lyflike en homoërotiek. De Lange is onder andere bekend vir sy “gay” (of queer) gedigte wat veral in die tagtiger- en negentigerjare opspraak verwek het. Sy vlymskerp waarnemingsvermoë en humorsin resoneer sterk in ’n kwatryn soos “Beduiwelde diva”:

 

’n Diva sans haar woorde

is prikkelbaar, ja, selfs beheks.

Sy struikel oor akkoorde,

soos ’n courtisane sans seks.

 

In die opsig sluit De Lange by Hennie Aucamp aan wat ’n voorliefde vir die kwatryn as digvorm gehad het. Sy postuum verskene bundel Oopkardoes (2020) kom hier ter sprake en openbaar De Lange ’n soortgelyke “stuitige” toon wat lesers met genoegdoening sal laat.

Die skrywer André P. Brink word ook op speelse wyse aangespreek met verwysing na “Salomi dans” waarin die spreker opmerk:

 

Hy hét Ingrid bemin, dit sweer hy, maar daar was

immer ander wat by hom spook. Hy raak dronker

terwyl sy vir hom dans, tot Salomi beveel:

Gaan nou, & bring my die kop van Ingrid Jonker!

 

Brink se talle liefdesverhoudings, huwelike en egskeidings soos vervat in tekste soos ’n Vurk in die pad (2009), Vlam in die sneeu (2015) en Leon de Kock se André P. Brink en die spel van liefde (2019) vind in “Salomi dans” gestalte. Dié kwatryn se geslaagde spel met klank en rym herinner veral aan Philip de Vos se skerpsinnige limerieke wat tema en toon betref. In “Die laatmiddag het sloom geword” skemer N.P. van Wyk Louw se stem deur die gleuwe van ’n effe minder bedeesde spreker se waarneming:

 

Die laatmiddag het sloom geword.

Die oujaar sloer nog langs die see

Waar gebronsde seuns uitgelate stort;

of in hokkies: die ou spel van neem & gee.

 

Die sirkelmotief verkry finaal gestalte in die slotafdeling getiteld “Rust-mijn-ziel” met verwysing na die digter-spreker se vriendskap met die ontslape skrywer Hennie Aucamp. Die titel verwys na die naam van die plaas waar Aucamp grootgeword het. Ook Joan Hambidge gebruik “Rust-mijn-ziel” as titel van haar lykdig in die huldigingsbundel Om Hennie Aucamp te onthou (2015). In die slotvers bring De Lange op gepaste wyse hulde aan Aucamp en sy geliefde grootwordplaas wat in literêre kringe onder andere bekend was vir sy vrygewigheid hetsy as vriend of mentor:

 

Ver van die opstal & grafte

vind ek jou gestalte, jou gasvry,

helpende hand, op al die plekke

waar die lyf nog gebotvier word.

 

In geheel is Miniatuur ’n geslaagde bundel waarin De Lange weer eens sy vernuftige digterskap met spesifieke verwysing na die kwatryn as digvorm tentoonstel. Sy fyn waarnemingsvermoë, ruim woordvernuf en sterk aanvoeling vir klank, ritme en rym dui op behendige vakmanskap wat soos in Weerlig van die ongeloof en Duimnaelsketse daar gestel word. Alhoewel Weerlig van die ongeloof in die drieluik vir my uitstaan, bied Miniatuur nogtans ’n ruim verskeidenheid kwatryne wat tematies met die vorige twee kwatrynbundels in gesprek tree. Ten slotte word die sirkelmotief in terme van menslike verganklikheid as onderdeel van De Lange se laatpoësie op geslaagde wyse byeenbring soos verwoord in “Portret op 64”:

 

Is daar iets soos ’n behoedsame portret,

Aweregs, wat op die skewe, skuinse let,

soos wanneer mens verby sterre kyk?

Sien mens dan deur die mens se skelet?

 

Die vitalisme soos verwoord in verskeie kwatryne in die afdeling “Voëlspesies” gevolg deur die tydsverloop met “Kom herfs, kom winter” tot “Afsien” en “Rust-mijn-ziel” dui op die voltooiing van ’n siklus. Met Miniatuur as sluitstuk slaag De Lange daarin om deur middel van die kwatrynvorm aspekte soos die kuns, natuur, liefde, lewe, erotiek en uiteindelik die verval van mens en dier op papier te verewig.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nuwe Bundel. Johann de Lange: Miniatuur
Dietloff van der Berg. Seuns en vaders →

2e gedagtes oor “Resensie: “Miniatuur”. (Johann de Lange)”

  1. Zandra Bezuidenhout says:
    30 July 2024 at 00:04

    Stem saam met Alwyn

    Reply
  2. Alwyn Roux says:
    26 July 2024 at 19:49

    ‘n Goeie resensie van ‘n goeie bundel.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: “Merang” (Neil Cochrane & Alwyn Roux Reds.)
  • Resensie: “Dwaaldae” (Andrea Sieberhagen)
  • Resensie: “Klaarte” (Louis Esterhuizen)
  • Resensie: "Skulpkrale: Kwatryne" (Marié Heese)
  • Anne-Marie Bartie. verskille

Nuutste bydraes

  • Gedigkompetisie: Praat ’n slag (weer) met N.P. van Wyk Louw en/of sy grootwordwêreld!
  • Jeanne Henning Els. noodgeval
  • Jeanne Henning Els. wholeworld
  • Koos de Wet. Sakkies lug
  • Joan Hambidge. Digterlike taal in die prosa

Nuutste kommentaar

  1. Johann Lodewyk Marais on Johann Lodewyk Marais. Blesbok10 June 2026

    Dankie, Joan. As kind het ek dikwels gesien hoe van die boere om ons met blesbokke boer. Nou en dan…

  2. Piet van Rooyen on Piet van Rooyen. Variasie op Jan Blohm se “Jenny”6 June 2026

    Lyk my dis wat gebeur as 'n kabouter by Kunsmatige Intelligensie inklouter!

  3. Karin on C Fritze. Oorskot van die dag6 June 2026

    Ek verwonder my altyd aan hoe digters en skrywers se gedagtes ver paaie loop om sulke aangrypende gedigte en stories…

  4. Toekie on C Fritze. Oorskot van die dag3 June 2026

    So goed geskryf. Geniet altyd jou poësie. Sien uit na die volgende een.

  5. Joan Hambidge on Johann Lodewyk Marais. Blesbok2 June 2026

    Pragvers Johann. Maak 'n bundel hiervan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d