Kompas
Mammie,
jy is die een by wie ek gaan skuil
wanneer die aswinde bitterbostrane huil
en jy met jou eelthand sag oor my hare vryf –
jou stem my tula met:
“bedaar, my kind bedaar.”
Mammie,
uit jou gebeente is ek gevorm en gebou
dis jy wat my deur stormwinde regop hou,
jy is die kompas wat my roete wys
as jou stem my tula met:
“bedaar, my kind bedaar.”
Mammie,
hoe hou jy die naelstring so gebind
dat my spoke my nie kan vind
as ek my seer wat daagliks dooierus vat
agter rookskerms probeer verberg,
kom jou stem my tula met:
“bedaar, my kind bedaar.”
Maar Mammie,
waar kom jou eie swart nagte vandaan –
wie maak jóú lantern in die nagdonker staan
wanneer die bang met yskloue gryp
en jou trane deur Mara-mere swem –
al bewe jou stem met:
“bedaar, my kind bedaar.”
© Anzé Bezuidenhout 2024