Weeskind van Distrik 6
die mensdom het my reeds
in die baarmoeder verraai
want hierdie lewe is wreed
en die klappe is taai
tussen tik en daggapyp
is ek toe mos verwek
onthou die grants is goed
en die nagte half verkluim
as mens in ’n koue shack
met ’n oukombers lepel-lê
vanaand moet ek weer
jig-en-jive
deur tipa-lemme
só sal ek dan try survive
om die son weer more te kan sien
en so ’n aalmoes
vir die family te gaan verdien
in die nat Kaapse stormweer
kom lê my kaalvoetspore
waar ek groot-oog by die robot
bibberend en bakhand staan
hier lê ek my gebroke alfabet neer
vir net een koppie warm sop
en dalk ’n stukkie brood meneer
© Anzé Bezuidenhout, 2024