vier verse (en route)
kaapwaarts
die plate kanola lê
kunsmatig mensgemaak
binne die renosterveld
platter langs die kus
meer gerond soos
jy die overberg binnery
op die N2 wes,
witkopdorpers wei veldkleurig
frieskoeie ‘n gevlekte kontras
teen die groen van kuilvoer,
die aalwyne se vlamme lê
bruin en droog
bitter en dood
al langs die N2 wes
kaapwaarts,
hier vang jy nie meer die
reuk van perdeskuim
soos ons slakkepas
tussen stop-and-goes…
Fear and loathing, wes
die ironie van die moerse
multicoloured melkskommels
voor die ingang van tiny town
neffens albertinia
N2 weswaarts
is bietjie minder opvallend
as die onheilspellend’
mensekop
op die volstruislyf
wat welkomend grynslag
soos hunter se likkewane
“When the going gets weird
the weird turn pro…”
Tussen remixes en spoke
besembos en benadé se boksemdais
maak hierdie langpadkonvooi
effens mooier,
die treinspoor loop dood
iewers in die kanola
anderkant die pad
by merker N2-6 18 ooswaarts,
daar loop net kragdrade
in die ruigtes van die
soetmelksrivier,
onbemanne spoedkameras
weggesteek tussen die
kleiner geel van padrantsurings,
meer ontblomde aalwyne
voor riversdal,
en anneli se remix
bevestig ons lewe
tussen al die spoke
middeljarigheid
die wolke kompakteer
meer dingend
soos ons die boland binnery
en smells like teen spirit
begin basuin,
an anthem for a doomed youth,
ons almal nou middeljarig
met opinies oor nisbiere
en hoe disney star wars
opgefok het en hoe taai
gen x nou eintlik is/was;
ons weet ten minste nou
watter wolke water bring…
“here we are now, entertain us…”
© Floris van Zyl, 2024