Besoek van Basilikat
(Vir Anke)
Slapend in die woud van koorsboom en beton,
het ek laasnag van ‘n tierkat besoek ontvang.
Met ‘n vlagie wind deur die geligte ruit
(Het ek haar verwag?) het sy gekom,
iewers met sagte pote op die bed geland.
Ek het opsluit gedink sy het gekom om te vergeld
omdat ek haar laat gaan het toe sy destyds
sonder afskeid uit die woonstel gedros het.
Pa sou kon gedink het agttien vloere na die grond
sal haar daarbo soos ‘n plant laat wortel skiet –
maar jy wat haar so goed geken het, sou weet
hoe ongerekend sy kan wees. Hoon sou sy hê vir ons
omdat ons nie soos die vorige kere
die strate ingevaar het nie, al was die dae lank.
By die see het sy ‘n keer self die huurhuis gevind
en ons by die deur uitgeskel totdat ons laer voel as
slangspoeg terwyl ons ons arms na haar toe strek.
Laasnag het sy op my been getrappel. Onmiskenbaar
was dit teken van Basilikat dat sy lêplek prakseer
soos gewoonlik vir ‘n reis op my bene of my nek.
Ek het my lies ontspan en sy het die holte aanvaar
om haar soos ‘n sonkololo daarin op te krul.
Niemand anders nie sou, en met dié versekering
dat dit beslis Basilikat was wat my dalk voorberei
vir die narkosereis voor my hartoperasie
het ek aan die slaap geraak.
Toe ek wakker word, was die bed leeg.
Was dit ‘n droom soos jy gehad het toe sy verdwyn het?
Die vensterruit was steeds gelig. En die wind
het sterk gewaai soos deur ‘n oopgelate katedraal.
© Pirow Bekker, 2024
