maria
ek kan net dink
aan daardie nag,
Maria,
in die stal op hooi
toe jy in nood moes baar
hoe die drukking
van jou seun se kroon
teen jou heel
maagdevlies moes beur
ek kan dink
hoe groot die pyn was
dalk wroeging ook
met Josef aan jou sy
– miskien het hy
jou hand gedruk
straks langs jou gekniel –
ek kan dink
hoe enorm
die vreugde was
jou verligting ook
toe jy as vrou,
sy móéder,
Maria,
jou eersteling
aan jou bors kan sit
©Anne-Marie Bartie, 2024
