die lig in die tuin
ek het jou op ‘n vroeë aand gemerk
met vuurhoutjies en ‘n kers
wat jy in die steenlantern
onder die groot boom
in die tuin staangemaak het
om aan te steek sodat dit lank brand
die geur van die wiek soet
die lig ‘n klein flikkerende baken
in die wyer en wyer nag
wat die uitkringende geskiedenis
as ons die tekens reg vertolk
eendag onvermydelik sal kenmerk
sal jy waagmoedige verstaan
sou hulle die laaste geskrifte
nou aan jou oorhandig?
nieteenstaande besprekings
ongeag die raad van enige waarnemers
ten spyte van jou eie stip tuur
sal die lig in alle opsigte
te dof wees om by te lees
wag dan op groter lig, meer daarvan
en meer, wag die hele skepping af
wag tot die hemelliggame helder brand
genoeg om teks te openbaar
© Jaco Fouché, 2024
