visioen
ek het tussen pilare gestaan
‘n gelowige van ouds
waar vuurlig verniet
na aangesigte gesmag het
die skaduwee het in stapels gelê
‘n instrument het geween
wat ‘n fyngeëtsde klank
die snare was uit my are gevleg
die melodie uit my binnekeel gedwing
in die diepste ongerief van my hart
het die herinneringe krioel
eenmaal het sy aangetrek
net serpe om haar bo- en onderlyf
ons is op gespanne bene na die grotte
daar waar die gelag toe plaasvind
omdat ‘n toeris iets snedig
oor die strand gesê het
op haar knieë gaan sit:
“Hoekom voel ek altyd moeg?”
dit onthou ek, en ook
die stad was koud
en so leeg
daar was
eggo’s teen die mure
klanke in die stilte en oor die nood
teen dagbreek
was die wêreld dood
© Jaco Fouché, 2024
