Evangelis met brood
jy maak my sit onder ‘n taankleurige kombers
en bring aan my die nuus van die wêreld
die logge koel berig omtrent die menslike lewe
is dat dit nie eindig nie solank die laaste eter
oor die aardoppervlak struikel-val
op pad na ‘n tafel onkenbaar soos ‘n asemteug
nie eindig nie solank daar ‘n enkele getuie is
wat honger onder ‘n venster staan en wag
en van verlange te sluk, en elke sluk
is ‘n herinnering aan vorige verkwikking
en vroeër moontlik ‘n jeug met sprokies
en versnaperings, iets gretig en jonk en soet
in die vars mond terwyl die immer ouer gees
gekweld die koel logheid bepeins
© Jaco Fouché 2024