Water en wyn
Wat het gebeur
toe gewone water wyn word?
Die eenvoudige verbinding
van waterstof- en suurstofmolekules
is omvorm tot ’n komplekse versnit
van berghang en bries, son en reën,
wat met die tong kom dans
in nuanses van geur.
Hoe dit gebeur het –
daaroor kan ons net wonder
soos oor die jong Jood van Nasaret
wat méér is
soos wyn meer is as water.
Hy die raaksiener van nood
en die heelmaker van stukkende situasies,
wat uit die penarie van ’n benoude bruidegom
vir hoeveel dae daarna nog
’n plesierige fees kon laat blom.
Want dís wat gebeur het
toe gewone water wyn word.
© Neels Jackson, 2024
