en help my dra
Heer
u na wie die klein vingertjies reik
wat aan ons die gawe van onderskeiding geskenk het
wat deur ons stomp pogings beur
ons leer om liefde en geleentheid uit mekaar te ken
u wat stommiteit vergewe
wat die allerprivaatheid van gaan verstaan
u wat omsien na
die reisiger, booswig, arme,
swetser, skeller, die woedende,
die dwaas, die dreigende heerser,
die nederige, lydende,
eensame, verliefde,
u, skutheilige der skutheiliges
neem hierdie dag
hierdie leunende mure
hierdie enkele torings
hierdie dwaalleer en rou bitterheid
hierdie eenkamer-angs
in hierdie voorstad van die menigte
hierdie gekke krete op dooie dae
hierdie rokende buurt
met sy rokende besef van verkeerd
hierdie droë dam met bottelstukke
hierdie plastiekbesmette gras
hierdie erf vol blomme
hierdie wilde kinders van die veld
hierdie ou, ou sussende water
hierdie enorme verlange
en help my dra
wanneer die hoop my tekort skiet
wanneer ek die omvang van die gawe nie snap nie,
nie sien dat die las die heerlikheid self is nie
en help my dra
© Jaco Fouché 2024

Treffend, oorspronlik. Pragtige slot.
T