Stasie
(vir Mellet)
moeë bakstene gluur
vir die spore na
die ander land
wat kronkel oor
die reënboogbrug
op die perron
laat ‘n swart papawer
sy kop eerbiedig sak
die nag trek haar blinkerrok
oor die dye van die dag
in die vertreksaal
het die hart van
die groot horlosie
ophou klop
wysers flegmaties stil
‘n verlore vuurvlieg
jakker voor graffiti-glas
loer vir die godsdiensfanatici
wat gay voubiljette brand
© Christiaan Diedericks, 2024
Wow! Wat ‘n wonderlike, veelvlakkige gedig! Ek het hom ‘n hele paar keer gelees en elke keer sien ek meer raak. Die tweede strofe is in my opinie ‘n klein kragtoer. Hoop om nog baie van jou werke te sien & te geniet!
Baie dankie Eugene! Ek waardeer jou kommentaar! Ek glo Mellet sal ook die gedig geniet!