Die heilige muur
Toe die groot hand van God
teen die muur geskryf het,
nadat Belsasar homself in die goud
van God se tempelbekers gespieël het
terwyl sy vroue en byvroue
hul giggelend oor hom drapeer
en voor die gode van metaal,
klip en hout dans,
toe mensehande en -voete geskok verstil het
en Daniël, die man in wie die gees
van die heilige gode was,
dringend laat haal is as interpreteerder:
Hoe lank het die skrif
aan die muur bly sit?
Was dit soos bordkryt wat smeer,
soos van trane
of van die bloed van Belsasar
se nag van verskrikking,
of het die letters se groewe gebly
vir Darius, die volgende koning
en vir die nuwe diensmeisie wat met haar stoffer
daar talm, vol rillings, onwillig
om te raak aan die heilige muur,
of het Daniël se vertaling elke woord
tot niet gemaak, terug laat sink in die klip
of dit nooit daar was nie, dat die diensmeisie
wens sy kon dit sien, dat sy daar druk
met die stoffer om self seker te wees:
alles is nie net klip en hout en stof?
Hoe dit ook al sy,
die muur is lankal
deur die malinge van die geskiedenis
gesloop; die diensmeisies wag
met lampe en met stoffers
op ‘n nuwe muur.
© Marieta McGrath, 2024