Verwondering
Sy bousteen was
‘n miljoenste
van ‘n miljoenste van ‘n speldekop,
daarmee het Hy gevorm
‘n dogtertjie
wat kaalvoet van klip tot klip
oor ‘n stroompie hop.
Die son van ‘n duisend somers in haar hare,
in haar oë die sprankel van ontdekking en droom,
haar laggie is die voëls wat die more groet,
‘n suiwer oktaaf in elke boom.
Saggies vat sy aan ‘n geskulpte varingblaar,
haar handjies talm in betowering
om die geboë lyne van ‘n aronskelk
wat wit spikkel teen die plantgordyn,
huppelend op die wind se spoor
ontdek sy Hom
in verwondering.
© Stephan du Toit, 2024
