Vroegsomeraand met betragter
Sou die terriër wat teen sononder op die grasperk sit
sy ore spits vir elke geluid wat ek hoor en meer:
die onduidelike musiekritme uit ‘n buurhuis,
die pok-pok van tennisballe op die reeds verligte baan,
die bedaarde geblaf van ander honde wat dalk ook
op hierdie oomblik die vroeë aand beluister?
Groter Wese, sal u my die kalmte van hierdie hond skenk,
daardie vermoede van hartseer soos ‘n tikkie dood,
my inlaat by die dier se harmonie, die loom pols van bloed
onder die pels en in die skerp skedel waar die geheue
ander stil geleenthede soos hierdie tevoorskyn mag haal
om aan die onthouer ‘n bevestiging van soveel vrygewigheid
en rykheid en tekstuur te bied dat die einste stomme hond
en ek nie anders kan as om na ons groter tuiste te hunker nie?
© Jaco Fouché 2024