My stofsuier
‘n Blou ongedierte
dalk ‘n krokodil of likkewaan
al meer as drie dekades lank
‘n bondgenoot
wagtend onder ‘n tafel
op sy stille prooi:
stof en ander uitskotsels
soos stukkies naels en hare
van ‘n geliefde
‘n blinkblaar,
krummels op die tafel
of wat-ook-al.
Onverwags breek
sy suigende pyp
met ‘n draaislag
na links; die ou reptiel
gefnuik sielloos
‘n blinde dowe ding.
Tandeloos nou
hierdie stoffende suiger
onwrikbaar gepersonifieer
deur ‘n digteres-as-huisvrou,
haar siel soek orde netheid
beslis geen chaos nie.
Met swart rubberkleefband
word sy wond verbind
nes die hart van die digteres
immer op soek
na “pleisters vir haar siel”
en ‘n tweede kans.
© Joan Hambidge, 2024
Wonderlik, die ode aan gewone dinge.