The upturn palm
Simbool van reis glo. Aldus Hitch
in The Avon Emeralds.
En oor palms is daar al veel gedig:
in die onherbergsame kakofoniese vuis
van New York vertoef; dié stad
dra immers die hele wêreld
in die palm van sy groot hand.
In antieke tye glo simbool van dank-
baarheid. Voor die Metropolitan Museum,
‘n beeld van Kupido met ‘n palm opwaarts.
En nou het herinneringe aan jou,
jy, Du, Tu, my in die palm van die hand.
In New York waarsku ‘n waarsegster
dat ek jou nooit, nimmer sal vergeet nie;
lank voor die Twin Towers intuimel
toe sekerhede en reise op ‘n Greyhound,
American Airlines, treine my transporteer
deur ‘n land wég van jou soos ‘n voortvlugtende
in ‘n Alfred H-drama verpak met spanning en drama,
nog ‘n kinkel in die liefdeskabel afwaarts.
© Joan Hambidge
Sensuur toepas beteken nie dat elke opinie die moeite werd is om daglig te sien nie.
Johan Brandt, ja ek sensureer inderdaad kommentaar wat op Versindaba verskyn, veral as dit kom van oningeligte persone en as dit beledigend van aard is. Dit is wat die werk van ‘n Inhoudsbestuurder behels. Hoewel die kommentaarkolom oop is vir sinvolle kommentaar, is dit nie ‘n “free for all” nie. Vryheid van spraak beteken nie die vryheid om te beledig en te verkleineer of om uit die hoogte “raad” aan te bied waar die raadgewer ooglopend nie die teks verstaan wat hy kritiseer nie. Die gedagte van “where angels fear to tread” kom by my op … Versindaba is nie ‘n oop Facebookblad waar enige Jan Rap en sy maat ander gebruikers van die blad van subjektiewe en meestal ongegronde en belaglike “raad” voorsien nie. Versindaba is ‘n webblad vir gepubliseerde digters en digters wat verdienstelike werk lewer. Die afgelope 45 jaar het ek in die praktyk geleer dat mense wat literêre kritiek lewer of skryfkunsbegeleiding doen, in 99.9% gevalle akademici is wat teoreties toegerus is om literêre tekste aan die hand van bepaalde kriteria te lees. Subjektiewe kommentaar en “raad” wat gebaseer is op persoonlike voorkeure oor (byvoorbeeld) hoe ‘n gedig moet lyk, voeg geen waarde toe tot die literêre gesprek nie. As ‘n mens digters wat soms al tientalle solo-bundels gepubliseer het se werk wil beoordeel, glo ek dat “raad” akademies en teoreties behoorlik gefundeerd moet wees en dat die raadgewer heelwat teoretiese en praktiese ondervinding van kreatiewe skryfkunsbegeleiding sal hê. Jou naam het nog nie in dié verband iewers opgeduik waarvan ek weet nie.
Ons almal waardeer kommentaar van ingeligte lesers en die potensiële leerkurwe wat dit vir digters wat hier lees, inhou. Die sing van prysliedere in die oortreffende trap of die geseur oor ditjies en datjies in gedigte is nie die primêre doel van die kommentaarkolom nie, maar wel kommentaar wat ‘n positiewe bydrae wil en kan lewer ten opsigte van werk in wording.
Daar is genoeg Facebookblaaie waar amateurdigters mekaar se werk na hartelus objektief of subjektief kan beoordeel, kan “like”, met sterretjies en hartjies en uitropetekens kan besing en in die afwesigheid van die regte woord woorde soos “wow” en “awesome” kan gebruik. Dit is waar Versindaba verskil: Ons is ‘n webblad vir ernstige digters en kommentators wat aan die hand van weloorwoë argumente probeer sinmaak van plasings op die webblad. Ek laat wel soms niksseggende en emosionele kommentaar toe wanneer dit onskadelik is, maar wanneer een van Afrikaans se grootste digters deurlopend deur ‘n leek geteiken word met onsinnige en kleinlike kommentaar, gaan dit myns insiens te ver.
Mens wonder hoekom Marlies nie kritiek op die gedig plaas nie. Op watter punt besluit Versindaba/ Marlies Taljard dat kritiek ongegrond is? Laat die leser oordeel. Marlies, sensureer jy? Nee man, jy weet mos van vryheid van spraak?