tafelgebed
(vir breyten breytenbach)
jou metafore lê al vir jare
lieflik pynlik in my mond
om in die geheim aan te knibbel –
hoe wens ek dat ek hulle kon sluk
soos wyn
dié vloeiende ritme:
die dieet van ‘n Digter
kyk, jou woorde rys uit die blaaie,
word oral in eetbare happies opgedis (ook virtueel),
Woordenaar wat pampoene
(ek het nooit gedink dat mens
oor pampoen sou uitwei nie, gouserige pappery
wat hare laat krul)
fascisties maak, nagmaal hou in blou –
jou hande ook albino-vlerke waarmee jy kón vlieg
selfs in die na-dood, glo ek,
glip jy deur die tralies van jou knabbelende karkas,
verskyn jy in die drome van jou klein Vrou –
sê jy hou plek vir haar aan die tafel
van die groot bôrdienghuis
interpretasies kan brommers of bye wees,
maar tog vind ek troos in dié wete:
jou aardse maaltyd was ‘n lang gang,
maer man met die groen trui,
want dood word eers leeftye later versadig
deur papier of ‘n skilderdoek –
dankbaar is ek vir die genot van my lot:
lewenslank my onlesbare verwondering,
my honger na die bietjie helderheid
in jou verse wat uiteindelik vry is
van jagters, hekwagters en slapendes
© Maritha Broschk, 2024