Piet Swanepoel
Van die taalkunde het jy ons veel geleer:
hoe metonimia sintakties uitspeel.
Wag, ons laat die geleerdheid eers na links.
Op ‘n Sondag jy, Pieter, Henning, Johan
met Duard en Ronel nou al almal vort.
Die dag word ‘n feestelikheid uitgebreid
met ons diva wat arias vertolk hemelskoon.
Deur die jare kontak gehou: Ponelis se weggaan,
my swaer se begrafnis en Duard se heengaan,
snoer ons saam in kerke en gedenklesings.
Met ons laaste samekoms is jy sprakeloos;
dog lag jy oor die grappe vertel in Seepunt
in ‘n rystoel met sóveel vakansielawaai in die hotel.
Jy het altyd gereageer op gedigte en in ‘n gastehuis,
uiteraard Pretoria, eet ons ontbyt met die son ‘n lem.
In my soebatshand wens ek dat ek die tyd kon terugdraai:
Om weer Brindisi te hoor, soos ons dit toe beleef het …
Duard wat nog ‘n glas wyn skink, Johan se regsuitsprake,
weifelinge, noodtoestande. Polemieke en stryde.
Tye van onrus met reise na Amsterdam en Utrecht;
vlymbekkig jy oor herkenbaarheid én wraak in tekste.
Verwonderd nou oor Roman Jakobson se siening van afasia:
digterlike taal wat ontspoor én tog weer terugkeer na sin.
Ek sluk my woorde, is soos Boerneef dig, van my gremmer af.
Was die lewe maar net ‘n grammatikaboek met verbuigings,
vervoegings of ‘n handleiding met reëls en boomdiagramme,
sou ons nie nodig had om te vra: die antoniem vir sinkretisme?
© Joan Hambidge, 2024