drie dae na Kersfees
die hoë regop venster en die lang leerbank ontmoet verleidelik in die huis se hoek
vir ’n luilekkerlyf is dit die tuin van Eden veral met die venster wawyd oop
genoeg wind en genoeg lig weef los gedagtes nes wit rafelwolke
en die hittig gebakte spitsdak klink soos druppels op ’n sinkdak
die dag tuimel nagkoel in die dommel van leeglê-ure
arms, lyf en bene gedrapeer soos matgebruikte kerstooisels
genade sweef oorvloedig nóg kind nóg engel skreeu die stilte van die straat
deurmekaar en die hond bewaak herderlik die gapende deurdrumpels
soos wierook is die reuk van skielike nat grond
juig iemand ooswaarts oor díé geskenk van bo af
druis boomblare die hosanna van reën
vrede wat alle verstand te bowe gaan resoneer in veraf dreuning
en vlieg die werf se wagter kiertsregop blaf begriploos nes ’n geleerde fariseër
©Henriëtte van Wyk, 2024