Kerstyd 2024
‘n Spyskaart immer met keuses:
wildsvleis of vis dalk gerookte vark
met ‘n sjampanje-op-die-huis.
Nog ‘n Kerstyd alleen
sonder my ouers, vertrekkendes,
geliefdes – vér van vergeet;
tot naby se onthou hoe my moeder
wildsvleis berei (met spek),
gebraaide hoender én lam.
My vader vra die seën
(steeds); my susters oorhandig
Kersgeskenke in blink papier.
En al die weerloses, migrante
in ‘n oorloggesteisterde wêreld
met opslagkoeëls soos Krismiskrekkers?
Die vermeerdering van visse en brode;
geloof wat bly groei soos ‘n mosterdsaad:
‘n kerswens vir Vrede. Geplaas onder ‘n boom.
Geloof en hoop in die stratografie:
“die gewete te reinig van dooie werke”,
opgeteken in Hebreërs 9 vers 14.
In die Bybel en in die Koran staan
dit toe en nou om die lewende God
te dien. Kom herwaarts getroues …
© Joan Hambidge
Smashing, prof. Hambidge. Kan my net voorstel hoe die klank tot lewe kom as u dit voorlees, want daar is min wat ‘n gedig kan lees soos Joan Hambidge.
Mooi Prof. Het ons tog ou Breyten onthou. Die Waterboys.
Ek het die vers weer en weer gelees. Die woord stratografie met sy dubbele betekenis is ‘n perfekte keuse in my nederige opinie.