gevurkte blits
vir almal wat ‘n geliefde verloor het
hierdie jaar se gevurkte blits
het ons kameeldoringboom
in flenters afgeklief
steggies droëhout brand amok
in die skemer spleet
onderkant ons rooiduin
se stoskanttrog
die trop koedoebulle
en ‘n swanger koei
wat nog lank, vredig
in die woestyn moes wei
is wreed uitgedun
toekomstige woorde
tot ás verwoes
hierdie annus horribilis,
moes ons as kudde
om oorlewing veg,
voor die volgende
slag ons tref
steeds lyflik broos
wrakkerig, emosioneel
nou gewoond aan vlak
en haastig asemgehaal
drentel ons in strate
van hierdie onseker labirint
tussen maanlig en noodlig,
verwilder waaiend die trop kraaie
wat tydens elke doodsberig
flink maar wreed
die verstrooide bene kaler pik
vanaand, as wesies,
vra ons Heer,
dat wanneer middernag
se krukslagpen
ons bottel pop
U, in genade,
die rou vlam van die jaar
sal snuit met engelvog
© Anne-Marie Bartie 31 Desember 2024
Baie dankie! Mooi jaar vir julle.
AMB
Wat ‘n lieflike gedig! Veral die laaste strofe is iets besonders.
Dankie…glo en bid dat 2025 nog baie van die diep denkende mooi gedigte uit jou pen gaan oplewer…
Dankie! Was goed Om julle te sien