Besoek aan S21-gevangenis in Phnom Penh
(At any one time, the prison held between 1,000 and 1,500 prisoners. They were repeatedly tortured and coerced into naming family members and close associates, who were in turn arrested, tortured and killed.)
Vroeër is die voetval van tieners
op die terrein gehoor
en toebroodjies is pouses
op die grasperk geëet.
Nou is dit die Tuol Sleng Volksmoord Museum –
vertaal, “Hill of the poisonous trees”.
Die gewese klaskamers is in mosterdsaad-
grootte baksteenselle verdeel.
Wat onthou ek van my besoek
aan hierdie detensiesentrum
daardie somber dag in April?
Die swart-en-wit kop-en-skouerfoto’s
van die gevangenes by aankoms
geneem. Hulle staar vanaf
die mure na my. Stom.
Party lyk verskrik soos ’n bok
in spreilig. Ander is versteen
soos ’n gehipnotiseerde,
bewende muis voor ’n slang.
Net een tienerseun glimlag
breëtand asof hy vir ‘n oudisie
na Hollywood genooi is. My hart
verbleek en my hande raak lam.
Hy was nie een van die laaste twaalf
oorlewendes met die bevryding
in Januarie 1979 deur die
Viëtnamese weermag nie.
© Marthé McLoud, 2024