Prins van die Promenade
Elke dag as ek gaan stap, sien ek hom kaal
bolyf met ‘n vuil duvet soos ‘n mantel
om sy skouers gedrapeer.
Dikwels loop hy voor my en dan
sweef hy ligvoets soos een
sonder grond onder sy kaal voete.
Kort-kort skud hy sy kop asof hy
die influistering van stemme
daar binne probeer balanseer.
’n Ander keer fladder sy handpalms
oop soos skoenlappervlerke
en reik hy af na die blink kleingeld
wat hy telkens laat val en dan
verbaas weer optel asof dit
‘n splinternuwe ontdekking is.
So speel hy sy dae om op die promenade.
© Marthé McLoud, 2025
