Of love, loss and watermelons …
The Mail en Guardian, 9 Februarie 2017
Ons passasierskip laat sak sy anker
by die vissersdorpie, Warnemünde,
waar die Warnowrivier in die see
mond – Duitsland se bekendste
hawe by die Baltiese see.
Met net 8 400 inwoners
lê Warnemünde voor ons
soos ’n oopgekapte waatlemoen
op ’n warm somersdag.
Ons stap vêr op die wandelpad
langs die see en drink
koffie op die walle van die Alter Strom.
Agter ’n ou gebou sien ek
’n bruidegom en bruid –
gepak en gesluier – gou besig
om ’n smoke break te vat.
Hulle geronde monde blaas
’n wasige stroom in die lug
terwyl linte lig
deur die skaduwee op hulle val.
Nou nog wonder ek soms of hulle
na al die jare steeds so knus
bymekaar is en saam waatlemoene
oopbreek tot by die soetste kroon.
Of het hulle drome dalk weggevloei
en die grys koue hulle verrimpel
en ’n stroom harde woorde
hulle meegesleur terug na
die ander visse in die see.
© Marthé McLoud, 2025
Nice