‘Pandora’ tik al die boksies
Netwerk24, 17 Februarie 2025
Nuuskierig
Prometeus het uit die hemel neergedaal
na hy die vuur gesteel het dat mans as sterwelinge
hier op aarde darem nie so moes sukkel
om ’n vleisie gaar te kry nie.
Maar hy was met Zeus aan die stry
wat as oppergod dinge in balans wou kry.
Zeus het dus die vrou laat maak
en Pandora tik al die boksies so
dat die ander gode hul grootste gawes
aan haar gee, en Epimeteus was so bly
dat hy van Zeus haar as sy vrou kon kry
met goedgaar vleis nou ‘n braaibroodjie daarby.
Skelm broer Prometeus gee om te toets
of sy ’n snuffelaar is, as geskenk vir haar ’n doos
met ook onheil, swaarkry en alles boos
daarin versteek wat haar man, sy broer,
haar nie oop mag laat maak nie.
Met feestelike vure nog brandend hoog
sien Epimeteus uit die hoek van sy oog
iemand peuter met die doos
en skreeu met die onthou “Wat de joos!”
Gelukkig het Pandora groot geskrik,
was die opening gou weer dig
en bly oor, voor alles kon verloop,
daarin darem vir ons nog Hoop.
© Dietloff van der Berg, 2025
Netjies. Dankie.
Baie dankie Joan.
Voetnoot: Hoop “Elpis” was ook die Griekse godin wat die mensdom van al die booshede van die aarde gered het na Pandora die inhoud van haar fles of doos verstrooi het. Net Elpis het agtergebly.